Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront-Plus, skryf:
Die trauma wat in Senekal afgespeel het, verwysende na die moord op Brendin Horner, was nie slegs die strooi wat die kameel se rug gebreek het ten opsigte van plaasmoorde nie, dit het ook die gelykheid voor die reg eweneens in die kollig laat kom deur die ongelyke hantering van die betrokke partye se borgtogaansoeke.
Die hof neem die volgende in ag wanneer borgsteun oorweeg word: is die beskuldigde ’n vlugrisiko, sal die beskuldigde sy of haar verhoor bywoon, het die beskuldigde ’n vaste adres, familie en ’n geldige paspoort?
Indien die individu aan hierdie vereistes voldoen, bepaal die hof die borgbedrag, in oorleg met die erns van die oortreding.
Dit is elke oortreder se reg om volgens hierdie reëls beoordeel te word, maar dit is klaarblyklik nie die geval wanneer dit ’n boer van Senekal is nie. In die lig van bostaande regsreëls was die uitspraak van die streekhof oor die borgtogaansoek van André Pienaar van Senekal onbegryplik.
Ten spyte daarvan dat die beskuldigde aan al die vereistes vir borgskap voldoen het, is dit van die hand gewys. Pienaar is ’n bekende sakeman van Senekal. Sy aansoek was suksesvol nadat hy die hoërhof in Bloemfontein genader het. ’n Borgbedrag van R15 000 rand is vasgestel.
Vergelyk bostaande met die borgbedrag van R5 000 wat vasgestel is vir die beskuldigde van Brendin Horner se dood. Hoe is dit moontlik dat die borgbedrag vir ’n beskuldigde wat van moord verdink word soveel verskil van ’n borgbedrag vir ’n beskuldigde wat na bewering ’n voertuig aan die brand gesteek het?
Die logiese gevolgtrekking is dat daar klaarblyklik twee stelle reëls bestaan. Watter van die stelle reëls toegepas word, hang af van die bevolkingsgroep waaraan ’n beskuldigde behoort. Hieruit lei ’n ontstellende ongelykheid voor die reg.
Kan jy indien jy aan die blanke ras behoort, jou in die hof beroep op jou demokratiese reg soos vervat in die konstitusie? Ek kan geen ander verklaring as een gebaseer op ras vir bostaande gebeure vind nie.
Die vraag is wat gemaak wanneer die reg nie meer geregtigheid en gelykheid uitleef nie? Kan ons dan nog na ’n demokrasie verwys of is regsreëls minder werd as die papier waarop dit geskryf staan?