LettersOpinion

Klagte teen Senekal-hofsaak ‘ruik na rassisme’

Die klagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus-leier, skryf:

Die aanklagte van onder meer terrorisme, poging tot moord, aanhitsing van openbare geweld en openbare geweldpleging waarvan André Pienaar (51) aangekla word ná die Senekal-hofsaak, dien as bewys dat daar dubbele standaarde is wanneer boere en die landbougemeenskap geraak word.

Die regering het ook ’n senior advokaat aangestel om Pienaar se borgtogaansoek teen te staan. Dit is duidelik dat die vervolgingsgesag ’n voorbeeld van Pienaar wil maak om sodoende ’n boodskap aan die boere en die landbougemeenskap te stuur.

Die klagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik en daardeur maak die vervolgingsgesag homself skuldig aan vooroordele en vervul hy nie sy rol as ’n objektiewe gesag wat gelykmatig in belang van elke persoon in die land moet optree nie.

Dit is duidelik dat dit hier nie gebeur nie en dat die klagtes heeltemal uit verband geruk word. Daar was geen sprake van terrorisme tydens die Senekal-hofsaak nie en niemand se lewe is bedreig nie. Hierdie soort aanklagte sal net emosies stook en kan lei tot verdere konflik in Suid-Afrika.

Daar is nêrens gesien dat enige klagte van terrorisme en poging tot moord ingedien is teen lede van die EFF toe hulle ’n landwye veldtog gehou en selfs met geweld van die Clicks-winkels geplunder het nie.

Daar is ook nie gesien dat sulke aanklagte ingedien is ná landwye diensleweringprotesoptogte waar polisievoertuie opsetlik aan die brand gesteek is en privaat eiendom geplunder is nie. Dit is heeltemal onaanvaarbaar en ek sal as leier van die VF-Plus hierdie saak direk verder met die betrokke ministers en die polisie opneem.

Die klagte skep ’n gevaarlike situasie en ons land kan dit nie bekostig dat onregverdigheid en dubbele standaarde so blatant toegepas word teen ons landbougemeenskap en boere in besonder nie. Dit wek die indruk dat daar ’n rassistiese ondertoon is wat die rede vir die ernstige aanklagte is.

Die VF-Plus sal eis om verduidelikings en antwoorde om helderheid te kry oor die saak.

Related Articles

Back to top button