LettersOpinion

Landbouers briesend vir Cele

Pleks daarvan dat Cele sy provinsiale premier ondersteun deur plaasmoorde te veroordeel en aan te spreek, sweep hy misdadigers op deur te beweer dat boere nie moet kla wanneer hulle seerkry as beeste geskut word nie.

Henk van de Graaf, TLU SA Noord-streekvoorsitter, skryf:

Al is ons ver van julle af, kan julle reken op ons ondersteuning. Moet net nie gaan lê nie en moenie swig voor ongegronde beskuldigings van arrogante politici nie. Ek wil dié boodskap namens die TLU SA-lede van Limpopo oordra aan die boeregemeenskap van Normandien in KwaZulu-Natal.

TLU SA Noordstreek is briesend oor min. Beke Cele se onlangse uitsprake en beskou dit as haatspraak en opswepery. Pleks daarvan dat Cele sy provinsiale premier ondersteun deur plaasmoorde te veroordeel en aan te spreek, sweep hy misdadigers op deur te beweer dat boere nie moet kla wanneer hulle seerkry as beeste geskut word nie.

Sy insinuasie dat boere te swaar bewapen by die vergadering opgedaag het, is ook heeltemal onvanpas. As hy en sy polisielede hulle werk na behore gedoen het, dossiere nie weens omkopery en korrupsie verdwyn nie en misdadigers aan die pen ry soos veronderstel is om te gebeur, het boere nie nodig om hulself te bewapen nie.

As opkomende of swart bestaansboere nie hulle vee oppas nie, of dit moedswillig in kommersiële boere se lande jaag waar dit oeste vernietig, sal daardie vee geskut word en boere moenie ophou om op dié manier hulle oeste en eiendomsreg te beskerm nie. Niemand is bo die reg verhewe nie.

Ook nie die regering se minister van polisie, wat skynbaar by Normandien persoonlik opdrag gegee het dat inperkingsregulasies in terme van bywoning van vergaderings, oortree word nie. Die land se inwoners is lankal keelvol vir sy selfvoldane en arrogante optrede en uitsprake en hy het nou sy perke oorskry.

Dit is tyd dat hy moet besef dat hy ’n staatsamptenaar in diens van die belastingbetalers is wat sy en sy kollegas se salarisse betaal. Hy is geen superheerser nie en die boere gaan hulself beslis nie as Cele se slawe of vloermatjie laat behandel nie.

As pres. Ramaphosa enigsins ’n greintjie simpatie met die landbougemeenskap gehad het, en indien hy werklik slegs ’n bietjie ernstig sou gewees het om plaasaanvalle te bekamp, sou hy Cele reeds afgedank het. Dade tel nou swaarder as woorde.

Related Articles

Back to top button