LettersOpinion

Jongste werkloosheidsyfers is misleidend, maan Vryheidsfront

Dit is misleidend en onakkuraat, aangesien die definisie van “werkloos” nie mense insluit wat nie aktief vir werk soek nie.

Heloïse Denner, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Arbeid, skryf:

Suid-Afrika het 2,2 miljoen poste verloor sedert die eerste kwartaal van 2020 — die grootste kwartaal-op-kwartaalverlies sedert 2008. Tog toon die jongste werkloosheidsyfer wat Statistiek Suid-Afrika vandeesweek bekendgestel het dat die werkloosheidskoers met 6,8% gedaal het tot 23,3%.

Dit is misleidend en onakkuraat, aangesien die definisie van “werkloos” nie mense insluit wat nie aktief vir werk soek nie. Uiteraard kon mense nie gedurende vlak 5 en vlak 4 van die grendelstaat werk soek nie. Daarom het die getal mense wat nie ekonomies aktief is nie, inderwaarheid met 5,6 miljoen toegeneem. 

Hierdie syfer wys die werklike stand en krisis ten opsigte van werkloosheid in Suid-Afrika. Statistiek Suid-Afrika waarsku self dat vergelykings met vorige kwartale en jare se data omsigtig gedoen moet word, aangesien die jongste opnames nie op ’n volledige steekproef van die bevolking gegrond is nie.

Suid-Afrikaners moet onder geen illusie verkeer dat daar nie ’n reusewerkloosheidskrisis in die land is nie en skeefgetrekte werkloosheidsyfers sal nadelig wees in die soeke en implementering van oplossings. In ag genome die aantal werksverliese, spreek die oordrewe fokus van veral die departement van arbeid op byvoorbeeld gelyke indiensneming deur die afdwing van kwotas in die werksplek en strenger wetgewing wat daarmee gepaardgaan, pleks daarvan om op werkskeppingsinisiatiewe gedurende hierdie desperate tye te fokus, boekdele.

Dit dui op die ANC-regering se verkeerde prioriteite en onvermoë om behoorlike krisisbestuur toe te pas. Regeringsondersteuning gedurende die pandemie in die vorm van onder meer die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike werknemersverligtingsfonds (Ters), was ’n druppel aan die emmer en is hoegenaamd nie volhoubaar nie.

Ondersteuning vir kleinsake-ondernemings het ver tekort geskiet en kleinsake en die privaat sektor is tot ’n groot mate vir verskeie maande heeltemal lamgelê. Die skuld vir afleggings en ander pro- bleme in die arbeidsmark word gereeld deur die minister van arbeid voor die deur van die privaat sektor gelê, maar regeringsondersteuning aan die privaat sektor, die grootste werkskepper in die land, is onvoldoende. Die regering fokus meer op onder meer regstelling as werkskepping en daarom verkeer die land in ’n werkloosheidskrisis.

Die uitgebreide werkloosheidskoers van 42% is selfs meer kommerwekkend, aangesien dit ontmoedigde werksoekers insluit. Daar is reeds meer mense in die land afhanklik van maatskaplike toelaes as mense wat werk en die land kan nie meer die druk op die fiskus hanteer nie.

Moontlikhede van ’n basiese inkomstetoelae soos deur die regering beoog, is dus doodgebore en sal van Suid-Afrika meer ’n welsynstaat as ’n ekonomies volhoubare land maak.

Die derde kwartaal se werkloosheidsyfer sal ’n aanduiding wees of die regering daarin kon slaag om die werkloosheidsbloedbad weens die inperking om te keer, mits dit op ’n normale grondslag geskied.

Dit is egter onwaarskynlik, aangesien die regering tot op hede slegs fokus op maatskaplike korttermynbystand en kosmetiese transformasieteikens eerder as om kleinsakeondernemings by te staan en die nodige strukturele hervormings, wat nodig is om ekonomiese groei en werkskepping te be- werkstellig, daar te stel.

Related Articles

Back to top button