LettersOpinion

Be­lasting­beta­lers moet hard praat

Ver­skei­e faktore soos die opti­mis­tiese be­gro­ting, vermin­derde waar­dasies, dief­stalle, fou­tiewe le­sings en ver­lie­se van krag en water het byge­dra tot die negatiewe syfers. Invor­de­ring op belas­ting was in die afgelope boekjaar uiters swak.

Ti­nus Ras, DA-raads­lid, Be­la-Be­la, skryf:

Die mu­nisi­pale boekjaar verstryk ein­de Ju­nie en ek wil graag terug­voer gee oor ons geldsake en ook klem lê op swak dienslewering.

Die enigste goeie nuus is dat dit beter in ons dorp gaan as in baie ander dorpe in die provinsie, maar dit is nie ’n troos nie, want ons munisipale dienslewering laat veel te wense oor.

Die mu­nisipa­liteit het einde Junie reeds onge­veer R60 mil­joen aan plek­ke soos Es­kom, Maga­lies Wa­ter, die depar­te­ment van ver­voer en an­der skuldeisers geskuld. Dit sluit nie die be­drag van onge­veer R84 mil­joen in wat aan Dikala Plant Hire verskuldig is nie. Dié bedrag spruit uit ’n vloot­kon­trak wat deur die muni­sipa­liteit gekan­sel­leer is en ’n daaropvolgende hofsaak wat die munisipaliteit met koste verloor het.

Daar is reeds oor­een­gekom dat die munisi­pa­liteit R25 mil­joen oor die vol­gende vyf jaar aan die maatskappy terug­be­taal. Dit is ondenkbaar dat die muni­sipa­liteit by dié ooreen­koms sal kan hou.

Die dorp se gemid­delde inkoms­te was 16% laer as die verwagte inkomste op die be­gro­ting (onge­veer R67 mil­joen).

Ag­terstal­lige beta­lings op krag het 20% en agter­stal­lige belas­ting 18% van die tekort op­ge­maak. Ver­skei­e faktore soos die opti­mis­tiese be­gro­ting, vermin­derde waar­dasies, dief­stalle, fou­tiewe le­sings en ver­lie­se van krag en water het byge­dra tot die negatiewe syfers.

Invor­de­ring op belas­ting was in die afgelope boekjaar uiters swak. Die uit­staan­de skuld wat deur die munisi­pa­liteit ge­dra moet word het ge­styg na onge­veer R197 mil­joen.

Ek skryf die groot bedrag toe aan bewerings dat sekere ANC-raads­le­de die publiek ty­dens die alge­mene ver­kie­sing “gerus gestel het” dat hul­le nie nodig het om vir krag te be­taal nie. So­ver my kennis strek is daar in die afge­lope vyf jaar, ten spy­te van groot druk van die DA, geen dagvaar­dings uitge­reik nie.

Die muni­sipa­liteit se vrug­te­lose uit­ga­wes beloop miljoene. Daar word reusebedrae aan rente gehef op onbetaalde en agterstallige re­ke­ninge. Die skame­le 0,7% van die be­groting wat op instand­hou­ding bestee is, ter­wyl die voorge­skrewe mini­mum 8% is, is sorgwek­kend.

Geld vir instandhouding is aangewend om bedryfs- uitgawes soos sa­la­risse, krag en wa­ter te dek. Toe­sig, be­heer en kon­tro­le oor amptenare is baie swak.

Die per­ma­nente personeel­korps be­staan uit 374 amptenare en die ty­de­like per­so­neel uit 96 wer­kers. Daar is 17 raads­le­de en 87 le­de van die onder­skeie wyks­ko­mitees. Dit sluit drie beamp­tes in wat al vir twee jaar ge­skors is en steeds be­taling ont­vang.

Nog geen dis­si­plinêre stappe is teen hulle geneem nie. Die toe­stand van die paaie, straat­lig­te, wa­ter­lekke, kragon­derbre­kings (ver­al in die Nood­hulp- en Roo­depoort-omgewing), parke, straat­name en vul­lisver­wy­dering is swak. Ek ont­vang mins­tens 200 klag­tes per maand van ontevrede inwoners.

Die ver­keers­af­de­ling se swak diens is ’n groot bron van frustrasie en kommer. Die aansoek en uitreiking van lisensies is ’n nagmerrie. Die af­wesig­heid van top­per­soneel word ook bevraagteken. Die in­koms­te uit boe­tes is onder­ver­haal met 97% en dié sy­fer help nie om die munisi­pa­liteit se geldsake ge­sond te hou nie.

Die onwettige grond­gry­pe in die munisipale gebied het toegeneem. Die wetlike vereistes van bouregulasies wat ook vir sinkstrukture geld, word nie toegepas nie.

Daar is talle be­we­rings dat indivi­due grond vir hul eie sakke ver­koop, maar die be­wy­se hier­voor is skraps.

Die muni­sipa­liteit dwing nie regu­lasies af nie en sê herhaaldelik dat hulle nie verantwoordelik is vir strukture wat op privaat ­grond opgerig word nie. Dit is on­sin. Hulle weier bloot om alter­na­tiewe grond beskik­baar te stel.

Dit het nou tyd ge­word dat sakelui en inwo­ners hul stem­me dik maak. Dit is binne ons mag, want wyk 1 se inwoners dra meer as 70% van die munisi­pali­teit se inkoms­te by. Die ge­dag­te is nie om op­tog­te en sank­sies te reël nie, maar as dit die enigste uitweg is, sal dit ’n lo­giese stap wees om te neem.

Related Articles

Back to top button