LettersOpinion

Verdra beeste wat dorp uniek maak

Ek giggel nog oor die dag toe ons op pad huis toe ’n koei in die hoofstraat teëgekom het wat van ’n boer se bakkie afgespring het toe hy vinnig by die apteek stilgehou het.

Karin Odendaal, Bela-Bela, skryf:

Ek onthou ’n sekere inwoner wat destyds gegroet het met: “Groente, en alles van die beeste”, wat, veral in vandag se ekonomie vir my van baie meer nut is as “groete en alles van die beste”.

Ek kan nie wag om (eendag in die verre toekoms) vir my kleinkinders te vertel hoe my dogter se eerste Warmbad (nou Bela-Bela) fietsrit skool toe uitgedraai het nie.

’n Gr. 3-meisiekind, wat vantevore in stede gebly het waar alleen fietsry ongehoord was, het ewe braaf aangekondig dat sy daardie spesifieke oggend sélf by die skool sal kom.

Sy het blitsig teruggekeer huis toe en met groot oë vertel dat sy nie verby die parkie kan kom nie omdat sy bang is vir die beeste wat daar staan en wei.

Ek giggel nog oor die dag toe ons op pad huis toe ’n koei in die hoofstraat teëgekom het wat van ’n boer se bakkie afgespring het toe hy vinnig by die apteek stilgehou het. Die opwinding en adrenalien om hierdie verskrikte dier, wat glad nie gelukkig was met ons reddingspoging nie, se beweging te beperk totdat die veearts haar kon kalmeer met ’n pyl sal my lank bybly.

Ek is verbaas wanneer ek hoor dat die beeste pandemonium in die strate van Bela-Bela saai.

Ons almal weet mos ’n verkeersopeenhoping hier beteken dat daar drie voertuie by ’n vierrigtingstopstraat is. Is deel van die sjarme van ’n klein, landelike dorpie nie die nabyheid aan die natuur nie? Vroeër jare was die groepie meerkatte wat in die dorp rondgeloop het, niks vreemds nie.

Die bobbejaan wat in die dorp rondgehang het, en meer onlangs ’n hiëna, het ’n bietjie meer opskudding veroorsaak.

Ek geniet die roep van die visarend en die besoeke van ander interessante voëls aan my tuin juis omdat dit my herinner dat ek in die bos is. In my hart is ek ’n plaasmeisie. Is ek regtig die enigste persoon wat nie ’n probleem met Bela-Bela se sondebokke (-beeste) het nie? Groente, en alles van die beeste.

Related Articles

Back to top button