LettersOpinion

Vrouedag-2020: Geslagsgeweld is buite beheer in Suid-Afrika

 Vrouedag is ’n dag waarop vrouwees gevier moes word, maar vir baie vroue was Vrouedag bloot net nog ’n dag van mishandeling, pyn, hartseer en vernedering.

Erika Botha-Rossouw, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), voorsitter: vrouekomitee, skryf:

Die VF-Plus bring hulde en eer aan die vroue van Suid-Afrika wat die land gehelp bou het en dit steeds doen.

Deur die geskiedenis het vroue nog altyd ʼn belangrike rol in die land gespeel en veral diep spore in die geskiedenis van die Afrikaner getrap.

Vrouedag is ’n dag waarop vrouwees gevier moes word, maar vir baie vroue was Vrouedag bloot net nog ’n dag van mishandeling, pyn, hartseer en vernedering. Geslagsgeweld, hoofsaaklik die produk van ’n gebrek aan wedersydse respek, is buite beheer.

Die polisie staan oënskynlik magteloos om dit stop te sit en die regstelsel faal die slagoffers. Die VF-Plus stem saam dat almal moet saamwerk teen dié gruwel. Daar rus nogtans ’n grondwetlike plig op die regering om die land se mense veilig te hou en in die proses sal daadwerklike veranderinge aan die polisie- en regstelsel aangebring moet word.

Dae soos Vrouedag is belangrik en dien as motivering om die stryd om geslagsgelykheid verder te voer.

Dit is egter van kardinale belang dat daar nie slegs van Vrouedag tot Vrouedag gegaan word en niks verander nie. Wanneer statistiek van vroue en kinders wat vermoor en verkrag is sedert die aankondiging van die ramptoestand in ag geneem word, is dit duidelik dat praat nie genoeg is nie.

Strenger maatreëls moet in plek gestel word om die aanmelding van geslagsgeweld aan te moedig en slagoffers te beskerm.

Die regte omgewing moet geskep word sodat vroue kan floreer. Ons het ’n veilige omgewing nodig waar ons dogters kan leer, groei en werklik gelyke geleenthede kan hê. Ons moet ’n samelewing van verdraagsaamheid skep waarbinne vroue, ook dié van minderheidsgroepe, ware gelyke geleenthede geniet en kan leef sonder vrees.

Related Articles

Back to top button