LettersOpinion

SA moeg vir vermorsing van belastinggeld

Die mense van Suid-Afrika raak keelvol daarvoor dat hul swaarverdiende geld vermors word.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus-leier, skryf:

Die VF-Plus wil sy boodskap herhaal dat belastingbetalers van Suid-Afrika nie meer wil betaal as dienste nie gelewer word en belastinggeld gesteel word nie.

Die mense van Suid-Afrika raak keelvol daarvoor dat hul swaarverdiende geld vermors word.

Hulle sal op ’n punt kom waar daar ’n spontane weerhouding van belasting sal plaasvind.

Die e-tolstelsel is die perfekte voorbeeld van waar mense gesê het genoeg is genoeg. Tito Mboweni, minister van finansies, erken self slegs ingrypende strukturele hervorming van die ekonomie, gegrond op gesonde sakebeginsels, is die enigste manier om die land se benarde ekonomiese situasie om te draai. Hy weet waarvan hy praat.

Hy is ’n voormalige goewerneur van die Reserwebank. Hy is bevoeg, het die kundigheid en hy weet hoe die land se ekonomie werk. Hy sit egter met die probleem dat sy hande gebind word deur die ideologiese beleidstandpunte van die ANC.

Die minister gaan so ver as om op sosiale media te sê die ANC se ideologiese houvas op die ekonomie laat dit soms vir hom voel asof hy ’n rots moet sluk. Die VF-Plus wil aan die minister sê politiek en oorlog is baie dieselfde.

Die enigste verskil is net dat ’n mens in oorlog net een keer gedood word. In die politiek gebeur dit gereeld. Die minister moet homself afvra hoeveel keer hy nog figuurlik gesproke doodgemaak moet word voordat die ANC gaan luister.

Met die aanvang van die Covid-19-inperkings en pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van die R500 miljard noodfonds, het die president gesê die regering sal “seker maak” dat daar nie enige wanaanwending van die geld is nie. Intussen het korrupsie hoogty gevier.

Die media berig gereeld daaroor. Net in Gauteng is sprake van meer as R2 miljard se korrupsie waarby geld van die noodfonds betrokke is.

Dit is só erg dat die president nou selfs ’n spesiale eenheid moes aanwys om die korrupsie te ondersoek. Oor hierdie korrupsie het Mboweni gesê ’n tender is grotendeels ’n “etiese” kontrak en nie ’n blanko tjek vir korruptes om te bedrieg en te steel nie. Tog is dit presies wat gebeur.

Die mense van Suid-Afrika sien dit raak. Hulle is moeg daarvoor. Die regering moet nou vinnig sy huis in orde kry om ’n belastingopstand te keer.

Related Articles

Back to top button