LettersOpinion

Was dit nie vir Vally en Tinus …

By hierdie tyd het my bloed gekook maar, uit pure desperaatheid het ek geseil soos ’n slang, Fiela!

Ontnugterde belastingbetaler, Bela-Bela, skryf:

Nadat die kontrakteur wat so goed kan slote grawe in Bela-Bela, my huis se kragkabel raakgekap en die sloot toegegooi het sonder om dit aan te meld, het ek op Saterdag 25 Julie die munisipale noodnommer 15 keer sonder sukses geskakel.

Soos wat mense maar doen in ’n klein gemeenskap, het ek al my kontakte geskakel en gevra vir hulp om iemand van die tegniese afdeling direk te kon skakel, maar selfs dit het nie gehelp nie, want hulle het net bly sê: Skakel die noodnommer.

Die Sondag het ek sonder ophou die noodnommer en kliëntediens afdeling geskakel. Laatmiddag, nadat ek al twee privaat elektrisiëns gevra het om te kom help en hulle telkens gesê het die fout is aan die munisipaliteit se kant en hulle mag nie daaraan werk nie, het ’n munisipale bakkie by my huis stilgehou en ’n vriendelike en hulpvaardige amptenaar met die naam Isaac het in die verdeelkas op die hoek van die straat gaan kyk en die skakelaar wat af was, herstel. Dit was egter van korte duur want die fout was op die kabel.

Die Maandag het aangebreek en met hernude moed het ek die munisipaliteit geskakel en weer die probleem aangemeld. Ek kon selfs vir hulle meer inligting gee danksy die twee kundiges wat reeds die fout opgespoor het. Maar, helaas, daar loop ek my toe vas teen die onvermoë en die onwilligheid van die burokrasie. Selfs nadat hulle versoek het dat ek vir hulle van hul gunsteling wegneemhoender bring en ek onderneem het om dit te doen, het hulle nog steeds nie die fout herstel nie.

Ek het vir die derde agtereenvolgende aand soos ’n wafferse Voortrekker in my eie huis gekampeer.

Ek het op Dinsdag 28 Julie uit radeloosheid vir Tinus Ras van die DA geskakel. Hy het belowe hy sal dadelik werk van die saak maak en het sy woord gestand gedoen, want kort daarna het ek die argwaan van die toesighouer ervaar en het hy reguit vir my gesê: “Vra vir Ras om die fout te herstel.”

By hierdie tyd het my bloed gekook maar, uit pure desperaatheid het ek geseil soos ’n slang, Fiela!

Met die volgehoue druk van Ras het die munisipaliteit besluit om vir Vally de Souza te kontrakteer en binne afsienbare tyd was die probleem reggestel.

My hartlike dank aan Sagrys van der Merwe van Mernies, wat oor die naweek van groot hulp was en die Dinsdagaand verskeie kere in die koue uitgegaan het om die blok se skakelaar weer aan te kry. Dit is jammer dat ons dorp jou kundigheid en welwillendheid gaan verloor wanneer jy eersdaags verhuis. Dankie ook aan Tinus Ras van die DA wat gereeld terugvoering gegee het. Sonder sy bydrae sou ons nie die “ridder op die wit perd” kon kry om die kabel te herstel nie.

Bela-Bela-inwoners — ons het ’n skatkis van kennis in Vally de Souza. Die man is sy gewig in goud werd.

Related Articles

Back to top button