LettersOpinion

Munisipaliteite dra direk by tot buitensporige watertariewe

Water in die hele Suider-Afrika is ’n baie skaars hulpbron en hierdie situasie skep ’n wesenlike bedreiging vir die land en al sy inwoners.

Michal Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -LP en woordvoerder: samewerkende regering skryf:

Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie, het tydens ’n gesamentlike virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitees vir water, sanitasie, samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) erken munisipaliteite dra landwyd direk by tot die verhoging in watertariewe.

Die feit dat munisipaliteite nie hul rioolafval doeltreffend bestuur nie en noodsaaklike infrastruktuur laat verval, lei tot ernstige besoedeling van die land se natuurlike waterbronne.

Dit plaas groot druk op die onderskeie waterrade om bykomende en baie duur watersuiweringsmetodes in te span om te verseker dat gemeenskappe geskikte drinkwater het. Hierdie situasie is nie volhoubaar nie en skep ’n bose kringloop wat sal veroorsaak dat normale waterverbruik onbekostigbaar word.

Die departement het ook erken dat daar sedert 2014 geen “blou druppel”- en “groen druppel”-graderings by munisipaliteite gedoen is nie. Hierdie graderingsmeganisme is juis ingestel om watergehalte landwyd te kontroleer en te verseker dat munisipaliteite hul riool- en waterinfrastruktuur behoorlik bestuur en onderhou.

Dit het graderingsverslae vir munisipaliteite ingesluit met voorskrifte vir verbetering en regstelling waar nodig. Die regering weet dus nie wat die status is van die watergehalte wat aan mense gelewer word nie. Die departement beoog skynbaar om dit weer in 2021 in werking te stel.

Water in die hele Suider-Afrika is ’n baie skaars hulpbron en hierdie situasie skep ’n wesenlike bedreiging vir die land en al sy inwoners. Dit is onaanvaarbaar.

Die VF-Plus doen ’n beroep op die departement, die minister en die regering om die bewaring en bestuur van die land se waterbronne ’n prioriteit te maak. Die land stuur op ’n ongekende ramp af as die situasie op dié trant bestuur word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button