Louise Zietsman, Modimolle, skryf:
My seun is 15 jaar gelede met skisofrenie gediagnoseer.
Ek het in Desember 2010 by Sanlam, waar ek 19 jaar gewerk het, bedank om Huis Elpidos (Grieks vir hoop) te begin. Ek kon al my aandag aan my seun gee nadat my twee dogters hul studies voltooi het.
Huis Elpidos is ’n privaat nie-winsgewende organisasie wat in April vanjaar in Modimolle gestig is. Mense wat aan ernstige geestesversteurings soos skisofrenie of bipolêre gedragsversteuring ly, word voltyds by Huis Elpidos versorg.
Skisofrenie is ’n chemiese wanbalans in die brein wat met antipsigotiese medikasie beheer kan word. Hoewel skisofrenie en bipolêre gedragsversteuring ongeneeslike siektes is, is albei behandelbaar.
Die simptome van skisofrenie sluit in die agteruitgang van persoonlike higiëne, ouditiewe hallusinasies (hoor stemme), visuele hallusinasies (sien dinge wat nie bestaan nie), sosiale onttrekking en paranoia waar die persoon dink hy of sy word agtervolg.
Ek woon saam met my pasiënte in dieselfde huis soos ’n huisgesin en is betrokke by elke aktiwiteit.
Ek neem hulle maandeliks na die kliniek om medikasie te kry of dokter toe vir evaluasie.
Die inwoners doen soggens groepsaktiwiteite waarna hulle met take in en om die huis moet help. Hulle is fluks om kos te maak en op te ruim.
Dit is uiters belangrik dat hulle hul kognitiewe vermoë sover moontlik behou en dat dit gestimuleer word, daarom speel ons baie bordspeletjies. Een van die inwoners is selfs ’n uitstekende skaakspeler.
Ons laat egter geen drank of dwelms hier toe nie.
Lede van die departement van gesondheid het Huis Elpidos reeds besoek en is baie tevrede met ons inwoners se vordering. Ons is tans in die proses om ons lisensie te hernu.
Ek wil die publiek graag vra om enige ou klere en artikels wat nie meer gebruik word nie, aan ons te skenk. Ons kan dit in ons liefdadigheidswinkel herstel en verkoop vir ’n inkomste. Enige bydraes in die vorm van kontant en kruideniersware sal ook baie welkom wees.
Ons kontaknommer is tel. 082 335 6272.