LettersOpinion

Gesondheidsdiens is terminaal siek en nie weens Covid-19

Suid-Afrika se openbare gesondheidsdiens is tans terminaal siek en Covid-19 kan nie die skuld hiervoor kry nie. Dit was reeds sterwend voor die pandemie.

Philip van Staden, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: gesondheid, skryf:

Die VF-Plus wil in die eerste plek van dié geleentheid gebruik maak om Suid-Afrika se dokters, verpleegsters en alle gesondheidswerkers te bedank vir die onbaatsugtige diens wat hulle in die stryd teen Covid-19 lewer.

Dit is egter tragies dat die ANC-regering hierdie mense en die land se gesondheidsdienste in die steek laat. Suid-Afrika se openbare gesondheidsdiens is tans terminaal siek en Covid-19 kan nie die skuld hiervoor kry nie. Dit was reeds sterwend voor die pandemie.

Suid-Afrikaners het met groot geduld tydens Vlak 5 en 4 van die nasionale inperking hul samewerking gegee in reaksie op die regering se versoek om die land se gesondheidsdienste gereed te kry vir die verwagte stortvloed pasiënte wat spesiale aandag nodig sou hê.

Die regering het egter die mense in die steek gelaat deur nie dié belangrike tyd tot sy beskikking ten volle te benut nie. Die bewys daarvan is die huidige stakings van gesondheidswerkers weens ’n gebrek aan toerusting en die algemene tekort aan dokters, verpleegsters, ventilators, beddens en medisyne. Die private gesondheidsektor moes ingryp om die situasie te beredder.

Bo alles is die alomteenwoordigheid van korrupsie, onbevoegdheid en vermorsing by alles waar die ANC betrokke is. Voorbeelde is waar miljoene vermors is op motorfietse terwyl daar ’n tekort aan toegeruste ambulanse is en die krisis rakende onvoldoende kwarantyngeriewe.

Die private gesondheidsektor se reddende rol in die pandemie benadruk ook die onsinnigheid van die ANC se plan om dié funksionele sektor met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te vervang.

Dit sal sonder enige twyfel onder ANC-beheer weldra ook in duie stort. Dan sit die land sonder enige gesondheidsdiens en wanneer ’n groot gesondheidskrisis uitbreek, sal die gevolge katastrofies wees.

Intussen is die regering besig om die ergste inperkingsmaatreëls op aarde onbepaald uit te rek teen die raad van mediese kundiges en word sodoende ’n parallelle-krisis geskep wat die land se ekonomie ook terminaal gelaat het en mense laat omkom van die honger.

Suid-Afrikaners het ’n punt bereik waar hulle nie meer gehoor sal wil gee aan inperkingsmaatreëls nie en waar strenger maatreëls in probleemareas tot openlike opstandigheid en chaos kan lei.

Daar moet eerder gefokus word op die doeltreffende beheer en bestuur van die virus in oorleg met wetenskaplikes, mediese kundiges en kenners op dié gebied om gemeenskappe te leer om self pro-aktiewe voorsorgmaatreëls teen Covid-19-infeksie te tref.

Related Articles

Back to top button