LettersOpinion

Donker toekoms wink vir jeug

Die toekomsprentjie is dalk donker, maar dit is nou in die jeug se eie hande hoe hulle die toekomslandskap gaan verander.

Tammy Breedt, Vryheidsfront- Plus-LP en nasionale jeugleier, skryf:

’n Donker toekoms wink vir die jeug van Suid-Afrika onder die ANC-regering en sonder ingrypende gesindheidsveranderings.

Die Covid-19-pandemie het ’n reeds wankelende ekonomie bykans vernietig. Werkgeleenthede raak toenemend minder en die toekoms hou nie goeie vooruitsigte in nie.

Om handdoek in te gooi, is egter nie ’n opsie nie en om in die verlede te bly leef, ook nie. Die jeug is die toekoms van die land en hulle moet die toekoms doelgerig binnegaan met die fokus daarop om ’n toekoms te skep met gelyke geleenthede vir almal.

Ingrypende veranderinge verg dapperheid.

Baie word gesê oor die Vryheidsmanifes, maar is die land se jeug waarlik vry? En hoeveel van die huidige vryhede gaan verder weggekalwe word deur die effek van Covid-19?

Die toekomsprentjie is dalk donker, maar dit is nou in die jeug se eie hande hoe hulle die toekomslandskap gaan verander.

Hulle moet vandag se leiers oorreed om ’n gunstige omgewing te begin skep waarin die ekonomie kan groei en waar gelyke geleenthede vir alle mense is, waar vergeet word van die verlede en waar daar ware eenheid in diversiteit kan wees.

Retoriek teenoor blankes in die land is kommerwekkend. Die blankes van die land het swaar gely onder die verdrukking van ’n koloniale moondheid en om die land op te bou. Niemand het die reg om dit weg te neem of te bevraagteken nie.

Daar is vandag ongelukkig min te sien van broederskap en eenheid onder die jeug van die land. Retoriek dui daarop dat sommige eerder die verlede wil herhaal as agterlaat. Dit moet ophou ter wille van ’n nuwe en beter toekoms vir almal.

Related Articles

Back to top button