LettersOpinion

Loop lig in die verhuringsbedryf

Die huurmark het drasties verander ná die uitbraak van Covid-19 en die gevolglike inperkingsbevel.

Pieter Wagner, Bela-Bela, skryf:

Die huurmark het drasties verander ná die uitbraak van Covid-19 en die gevolglike inperkingsbevel.

Huidige wetgewing en die gebrekkige hofstelsels maak dit vir verhuurders byna onmoontlik om huur op eiendomme betyds te vorder en eienaars in staat te stel om hul verpligtinge rakende verbande en munisipale koste na te kom.

My raad aan mense wat eiendom wil verhuur, is om vooraf ’n deeglike ondersoek na toekomstige huurders se finansiële posisie te doen. Skakel verwysings en vorige verhuurders en kry ’n geheeloorsig om só te bepaal of die huurder in staat is om maandeliks hul huur te betaal.

Doen al die ondersoekwerk voordat ’n huurder intrek. Indien die huurder eers ingetrek het, kan dit ’n lang hofstryd word voordat die eiendom ontruim word.

Ek is al langer as 50 jaar in dié bedryf en daar is nog steeds voorvalle waar ek agterna uitvind dat vals inligting aan my verskaf is. Dit het ook al gebeur dat ek vir ’n huurder se uitstaande huur en munisipale rekening moes opdok voordat ’n nuwe huurder kon intrek. My eiendom is al beskadig en tuine het tot niet gegaan.

Dit kan ’n mens baie tyd in die hof vir klein eise en die gewone hof, asook geld aan regsverteenwoordiging, uit die sak jaag voordat jy ’n uitsettingsbevel bekom.

Wees ook wakker wanneer u van verhuringsagente gebruik maak en maak seker dat hulle in al die partye se belang optree.

Related Articles

Back to top button