LettersOpinion

Juffrou is raadop

Hoe kan ek teruggaan en my werk doen? My hele menswees en manier van onderrig is ontwrig.

Verwarde onderwyser, Bela-Bela, skryf:

Ek het geweet hierdie dag sal aanbreek, maar tog slaan dit my soos ’n onverwagse rukwind reg van voor.

Hier begin my slapelose nagte.

Hoe gaan ’n “drukkie” juffrou dit regkry om afstand tussen haar en die kinders te handhaaf? Elkeen het al so diep in my hart gekruip. Dalk té diep.

En weer stoot die kommer in my op soos ’n slegte sooibrand. Hoe gaan ek hierdie klein lyfies van my af weghou? Hoe gaan hulle verstaan hoekom ek hulle wegstoot? Hoe gaan dit werk?

Al is my skool nie ’n spesiale skool nie, het ons tog leerders wat in daardie kategorie val. Hulle is klein en honger — honger vir liefde, aandag en aanraking.

Hulle hou ’n mens met ondersoekende ogies dop. Party is nie eens die onderrigtaal mooi magtig nie. Ek bereik hulle deur gebare en gesigsuitdrukkings. Hoe nou gemaak met ’n gesigmasker?

Daar is soveel vrae wat by my opkom. Soveel angstigheid wat my wakker hou en nog lank sal wakker hou.

Hoe kan ek teruggaan en my werk doen? My hele menswees en manier van onderrig is ontwrig.

Nou begin ons onderwysers se angs en bekommernis.

Related Articles

Back to top button