LettersOpinion

Dit is tyd dat regering begin luister na medici en wetenskaplikes

Verskeie medici en wetenskaplikes, wat op Mkhize se advieskomitee dien, het die afgelope naweek in die media erken dat die inperkings geen doel meer dien nie en dat die regering hom nie aan hul raad steur nie.

Philip van Staden, Vryheidsfront Plus: LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid, skryf:

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en die regering moet begin luister na medici en wetenskaplikes oor die Covid-19-inperkings.

Verskeie medici en wetenskaplikes, wat op Mkhize se advieskomitee dien, het die afgelope naweek in die media erken dat die inperkings geen doel meer dien nie en dat die regering hom nie aan hul raad steur nie.

Hierdie inligting is vir die VF-Plus sorgwekkend aangesien selfs die regering se hoof-gesondheidsraadgewer, prof. Salim Abdool Karim, ook vroeër die maand bekend gemaak het dat die inperking sy doel gedien het en dat Suid-Afrikaners se lewe na normaal moet begin terugkeer.

Die minister van gesondheid sal die kundiges se raad moet begin volg. Verdere inperkings sal nie die uiteindelike verspreiding van die virus keer nie. Dit het vir die regering tyd gegee om die land se gesondheidstelsel gereed te kry.

Die VF-Plus hoop dat hierdie tyd wel goed deur die regering gebruik is. Die resultaat daarvan sal eers tydens die verwagte piektyd van die virusverspreiding gesien word.

Die VF-Plus is ook bekommerd daaroor dat die land se algehele gesondheidstelsel tot ’n stilstand kan kom weens die fokus op Covid-19 aangesien die stelsel in hierdie stadium ontwrig word.
Daar kan nie net op die pandemie gefokus word nie, maar ander belangrike aanmeldbare siektes en operasies moet ook weer aandag begin kry. Dit is sorgwekkend dat so veel as 146 000 operasies oor ’n tydperk van 12 weke uitgestel is.

Gewone mediese sorg kan só ’n agterstand ontwikkel dat dit kan lei tot chaos in die openbare sektor en die behandeling van gewone siektes kan moeilik raak.

Dit is ook sorgwekkend dat die inperkings sy tol begin eis onder dokters en spesialiste in die privaat sektor. Luidens berigte het dokters se inkomste met tussen 40 en 60% gedaal, wat druk op hulle plaas om voort te gaan om dienste te lewer.

Die minister en die regering moet begin besef die virus gaan verder versprei, ongeag die inperking. Dit is nou noodsaaklik om die ekonomie te ontsluit om ’n dreigende krisis van katastrofiese omvang af te weer.

Related Articles

Back to top button