LettersOpinion

Leer uit die foute van die verlede

Dit wil voorkom asof daar drie faktore is wat veroorsaak het dat die mense nie net hierdie katastrofes oorleef het nie, maar selfs sterker uitgetree het.

Pieter Raath, Bela-Bela, skryf:

Aan die begin van die vorige eeu het drie groot katastrofes ons land getref: Die Anglo Boere-oorlog, die Groot Griep van 1918 en die Depressie van 1933 waar die meeste mense telkens alles verloor het.

Dit wil voorkom asof daar drie faktore is wat veroorsaak het dat die mense nie net hierdie katastrofes oorleef het nie, maar selfs sterker uitgetree het. Eerstens ’n onwrikbare geloof in God wat vir hulle ’n anker was in hul diepste beproewing.

Tweedens ’n vasberadenheid om hulself aan hul skoenveters op te trek en self hul lewens te herbou sonder om op aalmoese staat te maak.

Derdens ’n regering wat geleenthede geskep het met werkskeppingsprojekte en veral ’n vrye ekonomie waarin entrepreneurs deur innovasie vir hulself ’n nuwe toekoms kon bou en vir ander werkgeleenthede kon skep.

Kyk ons na ons huidige Covid-19-krisis, sien ons in die eerste plek dat mense wie se voorvaders diep gelowig was, in hul tye van ongekende welvaart nie meer ’n anker in hul lewens nodig gehad het nie. Kerke het leeggeloop en vir baie is God net ’n vae skim in die verte.

Baie van die res is nooit ernstig aan godsdiens blootgestel nie en het nie die geestelike en morele waardes, wat in die Tien Gebooie en ander geestelike geskrifte vervat is, hul eie gemaak nie.

Tweedens het daar by die grootste deel van ons bevolking ’n gees van eiegeregtigheid posgevat waar hulle glo dat die regering en die samelewing dit aan hulle verskuldig is om ’n dak oor hul kop en kos op die tafel te voorsien sonder enige teenprestasie van hulle kant af.

Derdens het ons ’n regering wat deur onbeholpenheid, inmenging in die ekonomie en ondeurdagte besluite soos kwotastelsels, rompslomp en vakbonde met onbeperkte mag, dit vir entrepreneurs feitlik onmoontlik maak om deur innovasie vir hulself ’n nuwe toekoms en vir ander werkgeleenthede te skep.

Tensy ons dit op ’n manier regkry om al drie hierdie faktore weer positief te verander, lê daar vir ons ’n bitter moeilike tyd voor.

Related Articles

Back to top button