LettersOpinion

Onderwysers én leerders kry ewe swaar

Ontspanning is vervang met geen vryheid, angs, tuiswerk, huiswerk en ’n sieldodende tuisroetine.

Santie Gildenhuys, senior onderwyser, Modimolle, skryf:

’n Baie belangrike realiteit wat volgens my heeltemal uit die ook verloor word, is dat onderwysers en leerders vóór Covid-19 uitgesien het na die tien dae lange Maart-vakansie, al sou dit bitter kort gewees het.

Selfs al sou die vakansie so kort wees, sou hulle steeds op hul eie manier ontspan het, hetsy deur ’n kort wegbreek in die natuur of net tuisgebly het.

Maar … en dit is hierdie punt wat, na my mening, uit die oog verloor word: almal sou vry gewees het om te doen, ry, stap, eet, drink of kuier soos hulle wou. Met die koms van Covid-19 is al hierdie drome verpletter.

Ontspanning is vervang met geen vryheid, angs, tuiswerk, huiswerk en ’n sieldodende tuisroetine (so goed, of erger nog, as skool).

Boonop moes onderwysers en leerders ook nog teen ’n verbysterende spoed leer om tegnologie te bekom of bemeester. Skoolhou moes aangaan, kom wat wil!

Wat meer is, aangesien onderwysers en leerders aanvanklik slegs ’n kort ruskans sou hê, het hulle gevolglik beplan om eerder iets sinvols van die drie weke lange Junie/Julie-vakansie te maak deur dán weg te gaan of opwindende projekte tuis aan te pak. En toe?

Covid-19 slaan sy tande dieper in en ook hierdie vakansie om te ontspan, word nou bedreig.

Wat my ontsettend ontstel, is dat almal maar net van onderwysers en leerders verwag om boeksak oor die skouer te gooi en aan te gaan sodra die teruggaan-skool-toe-klok lui.

En dít dié keer alles onder bitter ontwrigtende omstandighede.

My pleidooi is: moenie bloed uit ’n klip probeer tap nie. Moenie ’n onrealistiese werksladings op skole loslaat nie. Ons onderwysers en leerders is emosioneel moeg. Daar is min dinge wat so uitputtend soos onsekerheid is.

Niemand was sedert Desember verlede jaar met vakansie nie.

Onder inperking moes die meeste onderwysers elke dag vir die afgelope paar afgeslote weke voor die kospotte staan, gesinslede fisiek versorg, huise skoonhou, tuine onderhou, werk delegeer, finansiële storms verwerk en ’n vreedsame naasbestaan verseker.

Opsommend: hulle moes in beheer bly — teen wil en dank. Klink dit vir u na rus ná ’n bitter bedrywige eerste kwartaal?

Beslis nie! En ons almal weet dat daar ’n magdom nuwe stresfaktore op hulle wag.

Ek gee toe; slegs iemand met die wysheid van Salomo sal hierdie dilemma kan bemiddel. Die Covid-19-feitestel verander immers elke dag.

Slegs gebed en geloof in ons Drie-enige God sal hierdie kraaines kan ontrafel.

Related Articles

Back to top button