LettersOpinion

Versigtig vir wolwe in skaapklere

Die ergste van hierdie pre­datore is dat hulle deel is van ’n groter gesin of fa­milie. Hulle ge­daantes wissel.

Ontnugterde ouma, Modi­molle, skryf:

Die mens is na die beeld van God geskape — so staan dit geskryf.

Het jy al ooit gesien wat doen daar­die selfde mens onder die naam van porno­grafie? Jy sal jou klein­tonge­tjie insluk.

Dit bring my by die doel van dié brief. In prag­tige, vriende­like, son­nige Modi­molle, ja, in hierdie dorpie van ons, sluip talle pre­datore rond. Ja, sommer tussen ons. Hierdie soort kry ’n mens nie in die diere­tuin, wild­tuin, natuur­reser­vate of op Discovery Channel nie.

Nee, hulle sit in jou sit­kamer, kyk saam na Animal Planet, vreet van jou tafel af, slaap in jou spaar­kamer, spring saam met die klein­goed in die swem­bad en gaan Sondae saam kerk toe. Jou kos­bare kind sit op hulle skote. Hulle hou selfs jou hand in die kerk vas en sing klip­hard saam: “Prys die Heer”.

Maar hierdie pre­datore moet vreet en hulle prooi is sagte kinder­lyfies.

Jou kind is dalk drie jaar oud, myne vyf en die buur­vrou s’n ’n skamele twee. Die ergste van hierdie pre­datore is dat hulle deel is van ’n groter gesin of fa­milie. Hulle ge­daantes wissel. Hulle is nie vreemde­linge nie, maar kom uit jou geliefde familie. Dalk ’n oupa, pa, oom, boetie, nefie en, glo dit of nie, dalk nog een van die Eva-geslag, want ook hulle kan verrot wees en kos­bare kin­ders seksueel moles­teer.

Moenie van die kuier­gas-preda­tore vergeet nie. Hulle is ook deel van ’n familie. Hulle kom kuier met hul walg­like porno­grafiese streke en mane­wales en oefen op jou kos­bare kind. Hulle ver­skeur jou kind, ver­slind en ver­mink en los hulle op ’n bloe­dige hopie. Hulle draai om, lek hul lippe af en gaan terug na hul lê­plekke — tot vol­gende keer.

Hierdie is die waar­heid. Ek weet dit, want ek het dit self gesien. Hier is ’n donker, diep, stin­kende siekte onder families en nie­mand wil daar­o­or praat nie, want hulle is bang dit tas hul sosiale status aan. Hierdie stink neste moet oop­geskop word.

Almal is nie onder ver­denking nie. Dit is net ’n klein persen­tasie van ons dorp se bevol­king wat hulle hier­aan skuldig maak.

Hoe plak ’n pappa of mamma weer hul kos­bare kind aanme­kaar ná so iets? Hierdie las­plekke wys vir altyd. Soveel trane, soveel bitter­heid, soveel wroe­ging, soveel hart­seer en magte­loos­heid. Die verne­dering en stigma kleef vir altyd aan die kind.

En waar laat dit ons? Moet ons stilbly omdat dit familie­sake is? Mag niemand daarvan weet nie? Die skande! Wat sal die mense sê?

Te duiwel met die mense wanneer ’n kind se mens­wees gebreek word.

Jy klim op die naaste dak en skree die roof­dier se naam ten hemele sodat die hele ge­meen­skap kan weet. En dan, liewe ouer, tree jy hard en vinnig op. Daar is geregte­like stappe wat geneem kan word.

Ouers, word wakker!

Maak oop julle oë en moet geen familie­lid vertrou nie. Moenie die hand van jou kos­bare kind in die preda­tor se harige klou plaas nie. Staan op, vat jou kind se handjie en stap self saam met hulle. En nog meer: Familie­lede, maak oop julle monde teen hierdie gruwel­dade. Moenie stilbly en ander­pad kyk nie.

Kindermoles­tering is nie net ’n sonde teen die slag­offer nie, maar ook ’n sonde teen die ge­meente, die seku­lêre ower­hede en veral teen God.

Related Articles

Back to top button