LettersOpinion

Ontgroening versus Oriëntering

Met die nuwe “boelie-era” wat aange­breek het en dissipline wat by die agterdeur uit is, het dinge skynbaar handuit geruk.

Kobus Versfeld van Pienaarsrivier skryf:

Na die onge­lukki­ge voorval waar Enoch Mpianzi van Parktown Boys High School tydens ’n oriën­terings­kamp in die Kro­kodil­ri­vier verdrink het, ontstaan die vraag of oriën­tering nie ’n on­ding is nie.

Ons ouer garde wat in die sestiger­jare in die hoër­skool was, veral diegene wat in koshuise was, sal jou alles van ontgroe­ning kan vertel. Ons moes dit net een­voudig aanvaar, en die tyd afwag totdat jy die senior in matriek was wat by magte was om te ontgroen. Tra­disie moes voort­leef.

Ons is as die des­tydse st. 6’e (deesdae gr. 8) verneder, ontgroen en vol­wasse gemaak deur die seniors (vandag se gr. 11 en 12). Ons het byname gekry, moes jou naambord om jou nek dra vir twee weke, ons moes ons poeding elke Woensdag­aand afstaan aan die seniors by ons tafel. Ons het vir ons kos geknor, ons het vloere geskrop met tande­bor­sels, ons het pouses by die skool klippies in die slootjies van die plavei­sel met ons neuse gestoot, ons het seniors se tasse gedra, hulle bed­dens opgemaak, hulle skoene skoon­ge­maak, op aandag gestaan voor hulle met jou voet na binne gebuig, enso­voorts.

Ons het nooit ’n “oriëntering­straf­kamp” gehad nie. Onderwysers het nie betrokke geraak nie, behalwe as iets handuit ruk (wat selde gebeur het), want dan wag ses van die bestes op al die seniors.

Die ontgroening is in die swem­bad afgesluit waar al die nuwelinge met hul skool­klere in die skool­swembad gestamp is. Die seniors was dan reeds in hul swemklere binne-in die swembad. Daardie selfde aand het die groentjiekonsert voor die res van die skool en die ouers plaas­gevind en dan was alles verby.

Met die nuwe “boelie-era” wat aange­breek het en dissipline wat by die agterdeur uit is, het dinge skynbaar handuit geruk.

Ek stem nie saam met “oriëntering­straf­kampe” waar oorlewings­metodes gebruik word nie, dit klink meer na ’n weermag (“bootcamp”).

Bring liewer die ou tradisie van aanvaarbare ont­groening (soos ons dit ken) terug.

Related Articles

Back to top button