LettersOpinion

Mooi gebaar maak inwoner trots

’n Netjies­ge­klede man het uit die ry beweeg en in die gang afge­loop en terug­gekom met ’n stoel vir my.

Maureen Neethling, Kokanje, Modi­molle, skryf:

Ná maande ­lange gespook om ’n doku­ment by die Modi­molle-lisensie­kan­toor te bekom, het daar ’n vriende­like oproep gekom van ene Sollie om te sê dat ek die doku­ment kan gaan afhaal.

Omdat my motor onlangs gesteel is (nogal voor ’n kerk in Pre­toria!) het ek ’n saam­ryge­leent­heid by ’n besorgde vrien­din gekry. Met my kierie en ’n effens be­drukte gemoed is ek by die lise­nsie­kantoor in.

Daar was baie mense wat in lang rye gestaan en wag het. ’n Netjies­ge­klede man het uit die ry beweeg en in die gang afge­loop en terug­gekom met ’n stoel vir my. Sy naam is Phinias en hy werk by Isuzu in Modi­molle. Hy het my dade­lik na ’n toon­bank­venster geneem en met ’n harde stem geroep na perso­neel wat my sonder enige huiwe­ring gehelp het.

Phinias het gevra hoekom ek die spesifieke doku­ment benodig en ek het hom vertel van die diefstal van my voer­tuig en dat ek ’n nuwe voer­tuig sal moet koop.

Hy het sonder huiwe­ring vir Peter Motaung by Isuzu aanbe­veel. Nadat ek gesê het dat ek eintlik ’n ander fabri­kaat wil koop, het hy my steeds met goeie raad bedien en nog name van kontak­persone vir my gegee wat kan help.

Ek het ver­stom gestaan oor dié opregte heer se bedag­saam­heid en hulp­vaar­digheid. Hy moet sekerlik sy werks­plek se trots wees.

Ons het gegroet en toe ek my hand stewig op my kierie het, het ek gesien hoe hy die stoel optel en weer gangaf dra tot na die plek waar hy dit gekry het.

Dankie dat jy my trots gemaak het om ’n inwo­ner van Modi­molle te wees. Ek hoop dat ek eendag ook vir jou, Phinias, ’n klip uit die pad kan rol.

Related Articles

Back to top button