Adv. Anton Alberts, Vryheidsfront Plus (VF Plus): nasionale voorsitter en lid van provinsiale wetgewer: Gauteng, skryf:
Die VF Plus eis dat die Gautengse aanlynplasingstelsel vir skole onmiddellik afgeskaf moet word.
Daar is tans steeds duisende Gautengse leerders wat nog nie geplaas is nie weens die ontsettende administratiewe rompslomp wat geskep is deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se aanlynplasingstelsel.
Daar heers groot onsekerheid onder die ongeplaaste leerders en hul ouers oor of hulle in die korrekte skole geplaas sal word aangesien plasings volgens die Gautengse onderwysdepartement eers teen Woensdag afgehandel sou wees.
Die stelsel is ’n skepper van chaos en daar moet teruggekeer word na die vorige bedeling waar ouers self by skole aansoek kan doen vir die plasing van leerders.
Die VF Plus is daarvan oortuig dat die stelsel nie na behore funksioneer nie en geskep is met die doel om Afrikaanse skole se demografie deur middel van kunsmatige manipulasie te verander en sodoende die skole se Afrikaanse karakter te vernietig.
Die VF Plus het daarom besluit om te vra dat die stelsel deur die Openbare Beskermer (OB) ondersoek moet word en het ’n klagte daaroor by die OB ingedien.
Die VF Plus het verlede jaar ook indringende skriftelike vrae oor die stelsel in die Gautengse wetgewer aan Lesufi en sy departement gerig. Die vrae is nie beantwoord nie en die party sal dit daarom vanjaar weer indien.
Die VF Plus sal vanjaar verskeie aksies loods om die skoolstelsel in Gauteng te verbeter en Lesufi se politieke invloed te neutraliseer.