LettersOpinion

Thia Horak, die bruid en die rangskikking

Thia het vertel dat die prediker oop oë gebid het terwyl sy so saggies moontlik met die rangskikking die kerk binnegegaan en dit voor die kansel geplaas het.

Storiesoeker, Bela-Bela, skryf:

Daar is oor elke persoon minstens een storie wat vertel moet word.

So was dit ook met Thia Horak wat onlangs in Bela-Bela oorlede is.

Sy het vir lank ’n gehoorprobleem gehad, maar was onbewus daarvan. Eers in haar middeljare is die gebrek gediagnoseer.

Maar die ander storie gaan oor ’n gebeurtenis toe sy nog in Modimolle gewoon het en ’n voorslagvrou was met spyseniering en blommerangskikkings.

In Modimolle was haar blommewinkel digby ’n sekere kerk. Op ’n Saterdagmiddag moes sy om 16:00 in daardie kerk ’n rangskikking vir ’n troue aflewer. Vanuit haar winkel het sy ’n blik op die kerk gehad.

Haar gewoonte, het sy my vertel, was om rangskikkings so lank moontlik by haar in die winkel te hou en kort voor die trouseremonie voor die kansel te plaas en moontlik verdere afrondings daaraan te doen. Sodoende is verseker dat die rangskikking op sy beste vertoon.

Maar op daar die Saterdag kom sy agter dat die trougaste lank voor 16:00 begin opdaag. Teen 15:30 daag die bruid op en Thia besef dat daar ’n misverstand oor die aanvangstyd van die troue moes wees.

Sy het teenwoordigheid van gees behou en toe die bruid in die kerk instap, is sy met die rangskikking oor die pad kerk toe tot in die voorportaal. Op daardie oomblik het die huwelikspaartjie pas voor die kansel stelling ingeneem.

Vanuit die voorportaal van die kerk het Thia die aandag van die prediker getrek en aan hom beduie dat sy die rangskikking voor die kansel moet gaan plaas. Die prediker het gesnap waaroor dit gaan en toe begin bid.

Thia het vertel dat die prediker oop oë gebid het terwyl sy so saggies moontlik met die rangskikking die kerk binnegegaan en dit voor die kansel geplaas het. Sy het nog tyd gehad om die rok van die bruid liggies reg te trek.

Terug in die voorportaal het sy vir die prediker beduie dat haar taak afgehandel is, waarop hy toe met sy gebed afgesluit het.

Later het die bruid teenoor Thia verskoning gemaak dat Thia nie van die vervroegde tyd in kennis gestel was nie. Eers toe sy voor die kansel staan en geen rangskikking sien nie, het die bruid van haar versuim besef. Sy het gedink sy is in ’n ander dimensie toe die ietwat langerige gebed as waaraan sy gewoond was afgesluit word en sy in die pasverskene rangskikking vaskyk.

Related Articles

Back to top button