Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies, skryf:
Suid-Afrika se munisipaliteite is die ANC-regering se enkele grootste mislukking.
Ongeag of ’n geldelike toekenning direk of indirek aan munisipaliteite toegeken word, dit word nie aangewend vir die regte doel nie.
Alle toekennings is aanvanklik direk aan departemente of munisipaliteite betaal wat dit moes aanwend vir ’n spesifieke doel soos infrastruktuur. Dit het misluk. Fondse is wanbestee of vir ’n ander doel soos salarisse aangewend.
Daarna is toekennings na ’n indirekte betaalwyse omgeskakel waar departemente of die nasionale tesourie die betalings self moes behartig. Nou onderbestee selfs die nasionale departemente daardie fondse.
Dit wys die ANC is hoegenaamd nie in staat om op enige vlak te regeer nie.
Benewens die gebrek aan beplanning, uitvoering en kundigheid, is daar veral ’n gebrek aan verantwoordbaarheid. Daar is bykans geen optrede teen amptenare wat steel, wanbestee en verkwis nie.
Een van die hoofredes vir die regering se geldprobleme is sy buitensporige salarisrekening. Dié is die enigste wyse van besteding waarmee die ANC goed is, maar wanneer dit kom by besteding op diens en infrastruktuur om die ekonomie te laat groei, is die regering nie in staat om dit te doen nie.
Die oplossing is ongelukkig nie so maklik as om uitstaande skuld in te vorder nie. Mense raak armer weens die agteruitgang van die ekonomie. Sakeondernemings, veral op die platteland, sukkel.
Die fokus moet eerder verskuif na die skepping van omstandighede waarin die ekonomie kan groei.