LettersOpinion

Gesondheidsversekering is allermins ’n towerstaf

Wat by staatshospitale in Suid-Afrika gebeur, is ’n absolute skande.

Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid, skryf:

Die toestand van Suid-Afrika se gesondheidsdiens is haglik en die ANC-regering begaan ’n reusefout indien hy dink die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is die towerstaf om al die probleme uit die weg te ruim.

Die verhale oor wat in hospitale gebeur, klink na ’n nimmereindigende nagmerrie. Volgens die LUR vir gesondheid in Gauteng is sowat 3 800 mense in die 2018/19-boekjaar in Gautengse provinsiale hospitale weens mediese nalatigheid dood.

Enkele voorvalle wat onlangs aan die lig gekom het, is van ’n tweejarige meisie wat oorlede is nadat sy nege uur moes wag om in die Tshwane-distrikshospitaal opgeneem te word, bejaardes word met kettings aan stoele in die Mamelodi-hospitaal vasgemaak, ’n pasiënt met ’n bloedklont deur sy hart moet 17 uur wag om opgeneem te word in die Tshwane-distrikshospitaal en vele meer.

Teen hierdie agtergrond is dit veral ontstellend om te verneem dat die departement van gesondheid sy begroting met R1 miljard onderbestee het. Dit verklaar die kritieke situasie.

Volgens die ouditeur-generaal (OG) het hospitale in Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Vrystaat nie gebruik van mediese toerusting wat reeds in 2015 vir ’n bedrag van R13,2 miljoen aangekoop is nie. Alles skets ’n prentjie van algehele onbevoegdheid.

Wat by staatshospitale in Suid-Afrika gebeur, is ’n absolute skande en indien die regering onder die indruk verkeer dat die NGV al hierdie probleme gaan oplos, moet hy weer hard daaroor nadink.

Related Articles

Back to top button