LettersOpinion

TLU SA wag op verklaring van president oor plaasaanvalle

Boere, en die publiek, is tans so kwesbaar soos ’n duif op ’n telefoonpaal.

Bertus van der Westhuizen, voorsitter: Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) Vrystaat, skryf:

TLU SA het met waardering kennis geneem van mediaberigte wat lui dat pres. Cyril Ramaphosa op hoogte wil bly van plaasaanvalle.

Ongelukkig blyk dit die uitlating is gemaak tydens ’n privaat gesprek tussen die president en ’n individu (Dan Kriek van AgriSA) en nie in ’n amptelike verklaring nie.

Kriek is nie die president se amptelike woordvoerder nie. Slegs ’n openbare en amptelike verklaring vanuit die kantoor van die president, of direk van hom af, sal vir ons aanvaarbaar wees.

TLU SA het die afgelope maand ’n ope brief aan die president gerig en daarin onder meer versoek dat hy ’n verklaring uitreik waar hy misdaad, en spesifiek plaasaanvalle, veroordeel.

Dit het nog nie gebeur nie. Solank hy huiwer om in die openbaar standpunt in te neem waar hy hierdie brutale misdade summier veroordeel, bly ons negatief teenoor sy en die regering se gesindheid oor plaasaanvalle, moorde en misdaad in die algemeen.

TLU SA is van mening dat Ramaphosa ’n amptelike standpunt moet inneem sodat hy aan sy voornemens en beloftes gemeet kan word.

Boere, en die publiek, is tans so kwesbaar soos ’n duif op ’n telefoonpaal. As president behoort Ramaphosa in die belang van die land sy staatsmanskap te openbaar deur hom sterk uit te spreek oor die misdaadsituasie.

Baie dankie aan Kriek vir jou goeie bedoelings, maar dit is nie hoe ons by TLU SA deur die president ingelig wil word nie. Slegs ’n openbare verklaring deur die amptelike kanale van die president of sy kantoor, sal vir ons aanvaarbaar wees.

Related Articles

Back to top button