LettersOpinion

Vlaag gewelddadige moorde en aanvalle regverdig spesialis-eenhede

Die VF Plus is be­kommerd oor die wreed­heid van sommige van die aanvalle en is teleur­gesteld dat pres. Cyril Rama­phosa hom nie sterker teen misdaad uitge­spreek het nie.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheids­front Plus-leier, skryf:

Die vlaag geweld­da­dige plaas­aanvalle en moorde in Suid-Afrika sedert die ver­kiesing vroeër van­dees­maand, is uiters sorg­wekkend en dien as bewys dat daar ’n drin­gende behoefte is aan spesialis-­een­hede soos die vorige moord-en roof­een­heid of ’n eenheid teen plaas­aan­valle.

Die VF Plus is be­kommerd oor die wreed­heid van sommige van die aanvalle en is teleur­gesteld dat pres. Cyril Rama­phosa hom nie sterker teen misdaad uitge­spreek het tydens sy inhul­digings­rede die afgelope Sater­dag nie.

In die jongste voorval is twee jong mense helder oordag in Benoni vermoor nadat hul voer­tuig sonder brandstof gaan staan het.

Die 19-jarige Johanco Fleisch­man en sy vriendin, Jessica Kuhn (21), is oënskyn­lik sonder rede dood­geskiet. Sover bekend word net ’n selfoon ver­mis. Dit mag nie die dood­straf in Suid-Afrika beteken om bloot sonder brand­stof langs die pad te gaan staan nie.

Verlede Maandag is Annette Kennealy (50), ʼn bekende kamp­vegter teen plaas­moorde, op haar hoewe buite Makhado met ʼn yster­pyp en hamer dood­geslaan. ’n Man wat glo jare by haar gewerk het, is in hegte­nis geneem.

Twee weke gelede is Tool Wessels (55) en sy vrou, Liezel, wreed gemartel voordat hy vermoor is. Luidens media­berigte is ’n 19-jarige burger van Lesotho in heg­tenis geneem en drie ander mense is voort­vlugtig.

Volgens AfriForum was daar in die laaste weke verskeie ander plaas­aanvalle in die Boland waar dié soort misdaad voor­heen ongekend was.

Die VF Plus wil hom ten sterkste uit­spreek teen hierdie voorvalle en teen elke ander voorval van misdaad en geweld in Suid-Afrika, veral waar mense ver­moor of beseer word. Die party wil ook sy mee­gevoel uitspreek teenoor die naas­bestaandes van misdaad­slagoffers.

Gewelds­misdaad in Suid-Afrika het té alge­meen geword en bedreig die vrede, stabiliteit en mense­verhou­dings in die land. Die VF Plus sal hom toe­nemend daarvoor beywer om druk op die regering te plaas om daad­werklik en met erns teen misdaad op te tree.

Related Articles

Back to top button