LettersOpinion

Diefstal van kopiereg kan groot skade veroorsaak, sê VF Plus

Die Wet op Kopiereg is al wat tussen die skrywer en die gebruik van sy of haar werk op onwettige wyse staan.

Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Grondonteiening sonder vergoeding het ’n kulturele broer — die wysiging van die Wet op Kopiereg.

Albei is diefstal: die een van grond, die ander van intellektuele eiendom.

Die Wet op Kopiereg is al wat tussen die skrywer en die gebruik van sy of haar werk op onwettige wyse staan. Hierdie beskerming ontstaan as vanselfsprekend by die skep van enige werk. Die redes wat tans vir wysigings aangegee word, is dat kopiereg inligting weerhou en mense selfs ontmoedig om te skep. Hierdie ingewikkelde wetgewing is die pilare waarop die bestaan van instansies soos uitgewers, filmmakers, visuele kunstenaars, die musiekbedryf en die skryf van elektroniese sagteware berus.

Die hersiening van die wet se aanvanklike doel was om Suid-Afrika se betaalde kunstenaars te bevoordeel. In die proses is meer en ook nuwe toegewings gemaak vir opvoedkundige instellings, biblioteke, argiewe, museums en gallerye. Die beginsel van toegang tot inligting word wyd geïnterpreteer sodat leerders en studente boeke, artikels en joernale vrylik kan kopieer. Uiteraard sal minder boeke verkoop, wat daartoe sal lei dat skrywers van akademiese boeke verlies aan tantieme sal hê. Opvoedkundige publikasies sal met 33% verminder en indiensneming in die bedryf met 30%.

Indien akademici en navorsers nie vir hul werk vergoed word nie, sal uitgewers nie bevindinge kan publiseer nie. Uiteindelik sal Suid-Afrika afhanklik wees van ingevoerde publikasies wat nie noodwendig op Afrika, of die situasie in Suid-Afrika, van toepassing is nie terwyl die uitvoer van publikasies afneem.

Die wysigings van die wet is ook nie van internasionale belang nie. Kunstenaars sal nie hul intellektuele eiendom in ’n land belê wat dit nie beskerm nie. Soos grondonteiening sonder vergoeding die bestaan van elke landsburger sal beïnvloed, sal hierdie wysigings elkeen ook indirek raak en nie slegs betrokkenes nie. Intellektuele eiendom is een van die maatstawwe wat gebruik word vir afgradering van die ekonomie.

Die gewysigde wet is deur die parlement gestoomroller. Daar is geen sosio-ekonomiese verslag wat bepaal hoe die wysigings skeppende kunstenaars en die kennisbasis raak nie. Uitgewers en skrywers is deurgaans van mening dat daar nie genoeg openbare gesprek was om die wet in sy huidige vorm te wysig nie. Onder die dekmantel van die regverdige gebruik van inligting, verval beskerming deur kopiereg. Ernstige, indien nie onherstelbare skade, sal die plaaslike bedryf op sy knieë dwing. Die wysiging van die wet in sy huidige vorm, kort slegs die handtekening van pres. Cyril Ramaphosa.

Die regering sal voortaan die mag hê om tantieme vas te stel, die voorwaardes van kontrakte tussen uitgewer en outeur voor te skryf, asook dié van musiekateljees en musikante. Deur die wysiging van hierdie wet, beweeg ons al nader aan algehele beheer deur die regering.

Die VF+ het reeds sy stem gevoeg by diegene wat benadeel word. Suid-Afrikaners moet veg teen drakoniese wetgewing en die beskerming van intellektuele eiendom hoog ag.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button