LettersOpinion

Meer mense word met messe en skerp voorwerpe as met vuurwapens vermoor

Die minister kon nie antwoord op die vraag oor hoeveel van die vuurwapens wat by dié misdade betrokke was, wettige vuurwapens en hoeveel onwettige vuurwapens was nie. Volgens hom kan die misdaadadministratiewe stelsel nie onderskei tussen wettige en onwettige vuurwapens nie. Dit is ’n swak en onaanvaarbare verskoning.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier, skryf:

Meer mense is in die afgelope drie boekjare (vanaf 2015/16) met messe en skerp voorwerpe in Suid-Afrika vermoor as met vuurwapens.

Die polisie het egter geen rekords oor hoeveel van die betrokke vuurwapens wettig of onwettig was nie.

Dít blyk uit die antwoord van die minister van polisie, Bheki Cele, op ’n amptelike parlementêre vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid.

Op die vraag oor hoeveel mense in die drie jaar met vuurwapens en hoeveel met messe en skerp voorwerpe vermoor is, het die minister geantwoord dat 20 907 mense met messe en skerp voorwerpe vermoor is, teenoor die 17 914 met vuurwapens.

Die minister kon nie antwoord op die vraag oor hoeveel van die vuurwapens wat by dié misdade betrokke was, wettige vuurwapens en hoeveel onwettige vuurwapens was nie. Volgens hom kan die misdaadadministratiewe stelsel nie onderskei tussen wettige en onwettige vuurwapens nie. Dit is ’n swak en onaanvaarbare verskoning.

Die huidige en vorige ministers van polisie het deurentyd wettige vuurwapeneienaars daarvan beskuldig dat hulle die oorsaak van geweldsmisdaad is en dat die meeste moorde met vuurwapens gepleeg word.

Nou erken die minister dit is onwaar. Hy is die wettige vuurwapeneienaars van Suid-Afrika ’n verskoning verskuldig.

Cele se onlangse uitspraak by die vernietiging van vuurwapens by Arcelor Mittal in Vereeniging dat dit beter sal wees as private burgers eendag geen wapens het nie en slegs die polisie en soldate toegang tot vuurwapens het, is ondeurdag aangesien hy sy uitlating grond op die mite dat die meeste moorde met vuurwapens gepleeg word.

Die minister erken dat onwettige vuurwapens ’n groot probleem is, maar onwettige wapens neem toe as gevolg van onwettige wapenhandel, diefstal by polisiekantore en ander staatsinstellings. Die minister moet die syfer verskaf oor hoeveel vuurwapens by staatsinstellings en hoeveel in private besit gesteel en geroof is. Hy moet ook sê hoeveel onwettige wapens daar is deur wapensmokkelary.

Die jongste misdaadsyfers is ’n bewys dat die polisie misdaad, en veral geweldsmisdaad, nie onder beheer het nie en dus faal in sy grondwetlike plig om die mense en hul besittings in Suid-Afrika te beskerm.

Indien die regering jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met al die moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ’n vuurwapen ter selfverdediging. Dit is ook ’n gemeenreg-telike reg wat elkeen het. Die ontwapening van die burgery sal misdadigers bevoordeel en misdaad bevorder wat dramaties sal toeneem. Die industrie en veral die wild-bedryf in Suid-Afrika wat meer as R10 miljard bydra tot die ekonomie, sal vernietig word.

Die Vryheidsfront Plus sal alles in sy vermoë doen om teen die moontlike ontwapening van die publiek terug te slaan deur die reg van die gebruik van vuurwapens te verdedig en te verseker.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button