LettersOpinion

Sien tog ons nood raak en maak harte oop vir ons kinders, vra Huis Tekna

Ons vra vir hulp uit ons gemeenskap om ons kinders te versorg.

Melenie Nel, projekbestuurder: Huis Tekna, Bela-Bela, skryf:

Die afgelope maande gaan dit broekskeur met die geldsake van Huis Tekna.

Projekte en geld wat aan ons beloof is, het nie altyd gerealiseer nie.

Dit word toegeskryf aan die verswakte ekonomie en omdat baie meer instansies by ons gereelde borge om hulp vra. Beplande projekte het ook nie die ondersteuning van die verlede gehad nie omdat almal maar die rieme dunner moet sny.

Ons personeel is egter wonderlik en het ondanks die feit dat hulle nie verlede maand salaris ontvang het nie, hul werk getrou en nougeset gedoen.

Ons vra vir hulp uit ons gemeenskap om ons kinders te versorg. Ons sal so dankbaar wees as daar lesers is wat bereid is om vir ons elektrisiteit te koop of dalk geld in ons Shoprite-rekening wil betaal sodat ons kos, skoonmaakmiddels, doeke, melk vir die babas en ander noodsaaklikhede kan koop.

Ons maandelikse verpligtinge wat kos betref, beloop ongeveer R10 000, die munisipale rekening is ongeveer R7 000 per maand en administratiewe koste soos salarisse, telefoon, skoolgeld en versekering moet ook maandeliks betaal word. Enige bydrae is welkom, want met elke druppel kom die emmer vol.

Ons volgende datum vir ’n subsidiebetaling is in Junie. Ons het reeds weer by verskeie trusts en welsynsorganisasies aangeklop en wag vir antwoorde op ons pleidooie. Intussen moet ons die kinders versorg, hulle moet skool-gaan en daar moet in hul behoeftes voorsien word.

Hoewel ons weer bakhand moet staan, wil ons ook vir die gemeenskap dankie sê vir u ondersteuning in moeilike tye.

Elke bydrae, hoe gering ook al, sal help om na die kinders se welstand om te sien. Vir meer besonderhede, bel asseblief vir Melenie Nel by tel. 082 563 7439 of Surene Viljoen by tel. 079 323 4908, of stuur e-pos na tekna@belanet.co.za(.)

Dankie dat u ons roep om hulp aanhoor.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button