LettersOpinion

Bankdienste nie meer dieselfde nie

Ek probeer wal gooi en praat mooi want ek voel onveilig met die groot bedrag buite.

Ontnugterde kliënt van Modimolle skryf:

Ek was tot onlangs vir 30 jaar ’n kliënt van een van die groot bankgroepe in ons dorp.

Ek is egter ontnugter deur die swak diens wat ek ontvang het.

Die bank was stampvol kliënte en groot was my verbasing om te verneem dat almal wag vir navrae en die konsultante. Die tellers was op daardie stadium nie besig nie.

My nommer word ná ’n redelike tydverloop geroep. Met R9 800 kontant in my hand word ek egter deur die teller weggestuur na die kitsbank buite die bank. Dit is glo bankbeleid dat geen bedrag kleiner as R10 000 deur die tellers hanteer word nie. Ek probeer wal gooi en praat mooi want ek voel onveilig met die groot bedrag buite.

Dit val alles op dowe ore en geen uitsondering word gemaak nie. Buite staan rye mense en wag om die kitsbanke te gebruik.

Ons is hierdie afgelope week weer gewaarsku van skelms wat by kitsbanke in die hoofstraat doenig is. Ek is seker elke mens wat saam in die ry gestaan het, kon my onsekerheid en vrees aanvoel.

Na ’n elle lang wagtyd en drie probeerslae later is my geld gedeponeer teen R100 bankkoste, waarvoor ek nie hulp gekry het nie. Ek is huis toe met ’n enorme hoofpyn en die wete dat ek en my bank van 30 jaar se paadjies moet skei.

Related Articles

Back to top button