LettersOpinion

Niks het in Bela-Bela verander nie

Straatname bestaan nie of is verdof en onleesbaar, slaggate word met grond gevul wat twee dae later weer ’n gat word, ’n derde kontrakteur grawe steeds slote om waterpype in die dorp aan te lê (die voriges het nie die werk voltooi nie) en daar is ’n aanhoudende watertekort in die dorp.

Daleen Steynberg, Bela-Bela, skryf:

Nog niks het verander sedert die Bela-Bela-munisipaliteit se 2013/2014-begroting bekend gemaak is nie.

Straatligte werk steeds nie snags nie, maar wel bedags. Kragkabels hang al twee jaar lank uit die straatpale, daar is gereeld kragonderbrekings in die Roodepoort- en Noodhulp-omgewings, kragbokse se deure staan oral in die dorp oop en verkeerstekens verdwyn.

Straatname bestaan nie of is verdof en onleesbaar, slaggate word met grond gevul wat twee dae later weer ’n gat word, ’n derde kontrakteur grawe steeds slote om waterpype in die dorp aan te lê (die voriges het nie die werk voltooi nie) en daar is ’n aanhoudende watertekort in die dorp.

Die riool stroom naby die Warmbad-hospitaal verby en ruik aaklig en by Bospoort vloei dit ook. Waterpype lek steeds of het gebars, verkeersligte is steeds buite werking, rondlopervee is steeds ’n ernstige probleem op die paaie na Modimolle, Settlers en Thabazimbi en die Roodepoort-grondpaaie word nie onderhou nie. Verder gebruik die houtverkopers voor Hoërskool Warmbad steeds die sloot daar as toilet en die Bela-Bela-munisipaliteit se sogenaamde kliëntedienssentrum is morsdood.

My groot vraag is: Wat het geword van elke munisipale afdeling se begroting wat op dienslewering bestee moes word?

Ons mooi dorp word in die grond in bestuur. Daar is geen uitkoms in die vooruitsig nie.

Die verkiesing is om die draai en my vraag is, vir wie gaan u stem?

Die volgende munisipale begroting word een van die dae weer beskikbaar gestel vir goedkeuring.

Inwoners kan die vergadering bywoon om standpunt in te neem teen sake wat alle inwoners raak.

Inwoners kan steeds hulle probleme aan my rapporteer deur my te bel by tel. 074 1997 338 of stuur e-pos na steynbergdaleen@gmail.com(.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button