LettersOpinion

Meisie se musiekdroom kry vlerke

Dit was ’n hoendervleisgevoel. Ja, honderd maal ja! Ek weet van ’n klein meisie wat bitter graag klavier wil speel.

Largo, Mookgophong, skryf:

Terwyl ek onlangs by ’n laerskool in die dorp musiekbegeleiding behartig het, was daar ’n klein donkerkopmeisie wat al om my gedraai het.

Dan wou sy blaai, dan wou sy vir my wys sy kan Vader Jacob speel en ten laaste spreek sy die wens uit dat sy baie graag klavier wil speel. Met ’n voorstel dat sy huis toe gaan en vir haar ouers sê dat ek bereid is om haar na klavierlesse te neem, is sy weg.

Groot was my verbasing toe sy by die volgende geleentheid by die skool weer langs my verskyn en doodeerlik verklaar dat haar ouers sê daar is nie tans geld vir musieklesse nie.
’n Mens worstel maar met jou gedagte en sy het swaar op my gemoed gelê. Ons plaaslike leraars het nie gehuiwer om toestemming te verleen dat ek die klavier in die kerksaal gratis kan gebruik om vir poppiekind klas te gee nie.

Ek was egter bekommerd oor ’n 10-jarige meisie wat op straat is en so wend ek my toe na die pen om vir haar mamma te vra om ’n oplossing te vind, maar die brief word nooit gestuur nie.

Kort daarna sit ek eendag voor my aftreeplekkie en naaldwerk doen en hier kom ’n vrou uit die bloute na my aangestap en vertel dat haar dogter in Pretoria verhuis en dat sy ’n klavier het wat oortollig is. Sy het gevra of ek dalk van iemand weet wat graag ’n klavier wil hê.

Dit was ’n hoendervleisgevoel. Ja, honderd maal ja! Ek weet van ’n klein meisie wat bitter graag klavier wil speel. Ek het haar ouers geskakel en met ’n oupa gereël om die klavier in Pretoria te gaan haal. Die klavier is onmiddellik skoongemaak, gepoleer, uitgetoets en die vreugde was ongekend.

Maar die klavier is lanklaas gestem en die vervoer het nie die klank bevorder nie. Ons kon nog nie by lesse uitkom nie, maar opgee is min. Ek het ’n gawe klavierstemmer gebel en die verhaal aan hom vertel en sowaar: hy bied aan om die klavier te stem en gee toestemming dat ek die fooi van R1 800 kan afbetaal soos wat dit vir my moontlik is.

Vir ’n pensioentrekker is dit bykans ’n fortuin. Nou wat nou? Een Sondag by die kerk vra een van die leraars hoe die projek vorder en stel voor dat ek van sosiale media (Facebook) gebruik maak om mense om hulp te vra.

Ek was maar huiwerig, maar om 06:30 het ek my eerste inskrywing gemaak. Reeds om 07:15 het die seën begin inkom en is R2 300 beloof. Later betaal ’n dierbare vrou van Thabazimbi R3 000 oor. Nodeloos om te sê, die trane van dankbaarheid het bly vloei teenoor my landgenote. Hoera vir die goeies in Suid-Afrika!

Onse poppie het nou al twee klavierlesse gehad. Sy is in die wolke en ons gaan vir haar ’n klavierstoel aankoop uit die fondse wat beskikbaar gemaak is. Die musiekboeke en ander benodigdhede sal ook aangekoop kan word en hopelik sal sy binnekort haar eerste eksamen kan speel.

Hiermee ’n baie groot dankie aan die skenkers van al die bydraes. Weet dit word goed aangewend en bestuur deur die administrasie van ons aftreeoord.

Ten laaste wil ek net noem dat God se hand dwarsdeur hierdie goeie verhaal loop. Dat Hy Sy kinders versorg, dat Hy na elke haar op ons hoofde omsien. Al is ons potskerwe, sal ons Sy goeie genade elke dag beleef.

Mag hierdie belewenis vir u ’n deur oopmaak na goeie dade en gedagtes. En dra asseblief dié poppie aan ons Vader op sodat sy haar heel beste kan bereik.

Related Articles

Back to top button