LettersOpinion

ANC erken uiteindelik hy het misluk met debat oor transformasie, sê VF Plus

Die lys van “transformasiesuksesse” in ANC-terme is duiselingwekkend.

Adv. Anton Alberts, Vryheid Front Plus, voorsitter en parlementêre woordvoerder: ekonomie, skryf:

Ná 25 jaar aan bewind is die parlementêre debat oor transformasie van Suid-Afrika se ekonomie om die bevolking te dien, ’n erkenning van die ANC dat hy volkome misluk het as regering van die land en dat sy skadelike beleid slegs bygedra het tot die vernietiging van die ekonomie.

Die ANC het inderdaad reggekry om die land se ekonomie ingrypend te transformeer. Dit moet gemeet word aan ANC-logika wat transformasie gereduseer het tot ’n obsessie met rasseverteenwoordiging ten alle koste, veral van ondervinding en vaardighede.

Die gevolg is dat die ANC die land oor die afgrond in getransformeer het. Die lys van “transformasiesuksesse” in ANC-terme is duiselingwekkend.

Eskom is grootliks deur Regstellende Aksie (RA) getransformeer tot ’n leë dop wat die ekonomiese fondasie van die land weggekalwe het. Om dié skande te kroon, is Eskom selfs op hierdie oomblik besig met verdere transformasieplanne om van nog meer ingenieurs ontslae te raak bloot omdat hulle wit is.

Dié absurditeit is in Suid-Afrika ’n ANC-werklikheid. Dienslewering is altyd ondergeskik aan transformasie.

Die oorsaak van ekonomiese agteruitgang het dus te doen met die maatstaf van sukses. Die VF Plus sien sukses as ’n meriete-gegronde proses en eindproduk of -diens wat kan meeding met die beste in die wêreld. Die ANC, daarenteen, sien sukses as ’n transformasieproses en eindproduk of -diens waaraan die korrekte hoeveelheid swart persone deelneem, ongeag of dit werk of nie werk nie.

Indien die ekonomie dus gereduseer moes word tot ‘n rassesensus van kaartdraende ANC-lede met min of geen agting vir verdienste, sou ervare wit en swart mense nie in die openbare sektor wou werk nie en sou hulle, soos talle Eskom-ingenieurs, eindelik na ’n ander land beweeg wanneer die private sektor ook die transformasiedoelwitte van die ANC weerspieël.

Ras moet nou vervang word met meriete om die ekonomie te verbeter en klem moet geplaas word op die beskerming van eiendomsreg eerder as die bedreiging daarvan.

Related Articles

Back to top button