LettersOpinion

Besoedeling van Modimolle se Nylrivier skep gesondheidsgevaar vir inwoners

Daar vloei rou riool saam met bloed in die rivier weens die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se rioolinfrastruktuur wat nie in ’n werkende toestand is nie.

Marcelle Maritz, provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, Limpopo, skryf:

Die erge besoedeling van die Nylrivier skep ’n ernstige gesondheidsgevaar en skend inwoners se grondwetlike reg tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir hul welstand en gesondheid nie.

Bloed van die Waterberg-distriksmunisipaliteit se abattoir vloei tans in die Nylrivier.

Die VF Plus het ’n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit ingedien weens haar versuim as rekenpligtige amptenaar om toepaslike wetgewing na te kom en die besoedeling stop te sit.

Die VF Plus het ook die Waterberg-distriksmunisipaliteit in dié verband vir ernstige menseregtevergrype by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla.

Daar vloei rou riool saam met die bloed in die rivier weens die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se rioolinfrastruktuur wat nie in ’n werkende toestand is nie.

As lid van die koalisieregering van die plaaslike munisipaliteit eis die VF Plus onmiddellike optrede om die besoedeling van die Nylrivier stop te sit. Die party sal toesien dat daarvan werk gemaak word.

Die probleem het ontstaan deur ’n jarelange gebrek aan onderhoud deur die vorige ANC-beheerde munisipaliteit, met talle bewerings van korrupsie en onreëlmatige betalings aan diensverskaffers wat instandhoudings in die wiele gery het.

Die huidige krisis van rioolstorting in die Nylrivier is uiters kommerwekkend vir die gemeenskap en die boere wie se grond aan die rivier grens aangesien die besoedeling ’n beduidende gesondheidsrisiko inhou en skadelik vir mens, dier en plant kan wees.

Die party sal hierdie as voorkeursaak met die burgemeester bespreek en eis dat ’n aksieplan so gou moontlik in belang van die inwoners in werking gestel word.

Die nalatigheid van die munisipaliteit maak inbreuk op die gemeenskap se reg tot ’n skoon omgewing.

Die VF Plus slaan terug teen hierdie swak dienslewering en sal alle moontlike stappe doen om die besoedeling daadwerklik te keer.

Related Articles

Back to top button