LettersOpinion

Ons moet ook bekommerd raak oor lees, dink en redeneer

“As jy tien jaar gelede vir my sou sê een van my boeke sal die lig sien deur spraakborrels, video en klank, sou ek gelag het.”

André de Villié, via e-pos, skryf:

Dis nie net die politiek en swak munisipale dienste wat ’n mens bekommerd maak oor die toekoms van Suid-Afrika nie.

Daar is onlangs ’n brief van my met die opskrif: Vinnige, vermaaklike tegnologie begin menslikheid troef, in ’n dagblad geplaas.

Daar is ook ’n spotprent daarmee saam gepubliseer van iemand wat besig is om te verdrink terwyl die mense op die kant net staan en foto’s neem pleks daarvan om te help.

Mense gee min om vir hul medemens. Of wil nie betrokke raak nie, maar wil wel ’n foto van hierdie opwindende gebeure hê. Of hulle voel dit is lekker vermaaklik om tegnologie byderhand te hê sodat hulle die gebeure op WhatsApp kan plaas.

Mense is deesdae so ongeskik dat e-posse selde beantwoord word.

’n Onlangse boekbekendstellingsgeleentheid wat in Bela-Bela vir my boek, Die Heimat Projek, gereël is, was ’n groot mislukking. Slegs drie mense het opgedaag. Hoewel die geleentheid goed in Die Pos en deur middel van strooibiljette bemark is, was die opkoms skokkend. Daarby het Swart Vrydag waarskynlik ook ’n negatiewe invloed gehad.

Die klein groepie wat teenwoordig was, het begin praat oor jongmense se vermoë om te spel. Dr. Barry Vosloo van die Renaissance-aftreeoord, wat voorheen self in die onderwys was, het dit skokkend gevind dat goedopgevoede matrikulante vandag so vrot spel.

My eie ervaring as universiteitsdosent is dat die meeste studente nie hul gedagtes kan orden om sinvolle en goed beredeneerde navorsingsopdragte in te dien nie. Uiteindelik verlaat hulle die universiteit met ’n graad, maar hulle is eintlik nie gereed vir die arbeidsmark nie.

En dan kom die rol van boeke by ons gespreksgroepie ter sprake. Volgens John Fourie van PNA in Bela-Bela koop en lees mense eenvoudig nie meer gedrukte boeke nie. Hy sê dit is slegs oumas en oupas wat nog vir hul kleinkinders boeke kom koop. Hulle hoop dat dié wel gelees sal word. Maar, meesal vind die grootouers dat rekenaarspeletjies en selfone ’n veel groter aftrek by hul kleinkinders kry.

Boonop is televisiekyk ’n al groter tydverdryf. Dit is politiek, sensasionele berigte, sport en seks wat by volwassenes die meeste aftrek kry.

Daarom vind uitgewers en die boekbedryf dat die roman of storieboek besig is om te verdwyn. Selfs die ouer geslag lees nie meer nie. Die bekende romanskrywer James Patterson het oor sy nuwe boek The Chef, gesê: “As jy tien jaar gelede vir my sou sê een van my boeke sal die lig sien deur spraakborrels, video en klank, sou ek gelag het.”

Hou ’n mens die volgende woorde van Albert Einstein in gedagte, is daar beslis rede tot diepe kommer: “I fear the day when technology overlaps with our humanity. The world will have a generation of only idiots.”

  • Ek nooi belangstellendes om op Saterdag 15 Desember tussen 09:30 en 12:30 saam met my ’n koppie tee of koffie by Spoon(s)full in die Bosveld Mall te kom drink. Ek sal by daardie geleentheid eksemplare van Die Heimat Projek teken.

Related Articles

Back to top button