LettersOpinion

Wat het met ons dorp gebeur?

Kom ek skets vir u hoe ’n tipiese dag nou as hoogsbejaarde inwoner daar uitsien...

Siener, Mookgophong, skryf:

’n Tyd gelede het sakelui van ons dorp ’n groot ophef gemaak van hoe ons dorp verbeter gaan word.

Die werklikheid lyk egter ontstellend anders. Ek besit my eiendom sedert 1989 en onthou die mooi dae van ons geliefde Bosveld-dorpie.

Kom ek skets vir u hoe ’n tipiese dag nou as hoogsbejaarde inwoner daar uitsien.

Ek begin met ’n aangeklamde waslap, daar is al weer nie water nie.

Daar is darem ’n twee liter waterbottel vir tandeborsel en om my gesig af te spoel.

Ek is op pad dorp toe om ’n paar sake af te handel. Toe ek my motorhek oopsluit, sak my moed in my skoene. Die sypaadjie lê weer met wegneemkoshouers besaai. Skuins oorkant lê daar ’n bakkievrag weggooidoeke en haarslierte wat van iemand se kop kom, eierdoppe en groenteskille.

Oral lê kruiwavragte bou- en tuinrommel. ’n Reuseboomstomp uit die tuin van ’n munisipale amptenaar is netjies, deur ’n munisipale laaigraaf, op die sypaadjie neergesit.

Op die oorkantste hoek troon ’n transformator bo ’n bos uit — seker die slordigste installasie wat ek nog gesien het. Dit is die derde een in minder as twee jaar nadat koperdiewe dit grond toe laat tuimel het.

Op pad dorp toe probeer ek al die slaggate mis ry.

Ek het hulle goed leer ken nadat ek my voertuig se wielsporing verskeie kere moes laat instel. Ek vorder tot by 9de Laan en hou stil om in die hoofpad in te draai. In die parkie baljaar ’n groep jong seuns, sommige sonder klere, in die fontein.

Op die sypaadjie staan ’n man en urineer. Hy draai nie eens sy rug nie. Voordat ek in die sakedeel aankom, is daar nog twee sulke gevalle. Gelukkig is my vrou nie vanoggend saam nie.

Ek hou voor die supermark stil. Hier sweet ek omtrent om my staan te kry in die belaglike klein parkeerruimte wat Sanral gebou het. Hulle het afgewyk van die spesifikasies en omdat dit ’n provinsiale deurpad is, het ons verkeersafdeling volgens die immerafwesige verkeershoof glo geen sê in die saak gehad nie.

Toe ek uit my voertuig klim, trap ek versigtig want daar lê byna altyd los sand wat selde weggevee word. Net toe ek dink ek is veilig, gly my voet onder my uit, maar gelukkig val ek terug op die sitplek. Ek het my voet netjies op ’n gebruikte kondoom neergesit.

Vies sukkel ek die skuinste uit om in die winkel te kom en trap amper weer op ’n piesangskil wat neergegooi is. In die deur staan drie mense luidrugtig en skree-gesels. Ek sê “excuse me!” maar niks gebeur nie. Binne die deur staan ’n veiligheidswag en ek skree vir hom “I need your help please!”

Ek sê ek kan nie by die winkel inkom nie. Hy sê hy kan nie help nie, want die mense oortree nie, hulle staan buite die winkel. Toe gebruik ek eie reg en druk my stywe elmboë na buite. Met mening bars ek deur en sien hoe hulle uitmekaar spat. Binne staan ’n senior dame met ’n uniform soos ’n opsigter. Ek vertel haar my probleem en wat die wag gesê het. Ek noem dat dit vir my onaangenaam is om hul winkel te besoek en dat ek liewer voortaan sal wegbly. Sy glimlag met so ’n pruilmondjie en sê ek moet maar maak soos ek wil. Toe draai ek maar om, want ek wil.

Oorkant die pad kom rookwolke uit ’n oorvol staalstortingsbak wat deur die skoonmakers aan die brand gesteek is. Die vulliswa kan dit vir jare al nie meer optel nie omdat die wiele af of weg is. Ek tel verder straat af nog drie brandende houers.

Nou maar noodgedwonge na ’n ander winkel. Hier is die toegang onbelemmerd, parkeerplek genoeg, maar o wee, die pryse ruk my sak omtrent. Beslis nie die plek vir ’n arm ou pensioentrekker nie!

Nog drie besoekpunte. Die munisipaliteit en poskantoor is van lyn af. By die lisensieafdeling staan ek ’n uur lank tou om te hoor dat die persoon wat my navrae moet hanteer, bank toe is.
Ons eiendomme se markwaarde het tot op die bodem getuimel.

Ons mooi dorp lê op sterwe en kan nie meer gered word nie. (Brief verkort. — Red.)

Related Articles

Back to top button