LettersOpinion

Pogings edel, maar wat van ander kant?

Die blanke jeug wat uitgesluit word het onder ’n ANC-regering grootgeword en ’n ANC-kurrikulum op skool gevolg. Daar bestaan dus geen rede waarom hierdie jongmense nie as volwaardige landsburgers gereken kan word nie.

Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, skryf:

Pres. Cyril Ramaphosa se poging om werkloosheid onder die jeug hok te slaan, is edel.

Die Yes4Youth-projek is ’n nie-winsgewende organisasie met die skep van ’n miljoen werksgeleenthede as oogmerk. Die projek is deel van die nasionale ontwikkelingsplan 2030 en is in vennootskap met 153 geregistreerde maatskappye.

Die registrasie vereistes is ’n aansoeker moet swart wees in ooreenstemming met die definisie van swart bemagtiging, tussen 18 en 34 jaar oud en ’n Suid-Afrikaanse burger.

Saam met die Yes4Youth-projek bereik rassediskriminasie ’n skokkende laagtepunt.

Eerstens behoort die blanke jeug wat uitgesluit word, tot die sogenaamde Born Free-generasie wat ná 1994 gebore is. Hulle het onder ’n ANC-regering grootgeword en ’n ANC-kurrikulum op skool gevolg. Daar bestaan dus geen rede waarom hierdie jongmense nie as volwaardige landsburgers gereken kan word nie.

Hulle word bloot op velkleur beoordeel — asof blankes nie deel van die samelewing is en nie belasting betaal nie. Die VF Plus het ’n klag van diskriminasie by die Menseregtekommissie ingedien rakende die Yes4Youth-program. Daar sal binnekort verdere stappe bekendgemaak word. Die party beskou hierdie projek as polariserend in ’n land waar rassespanning kookpunt bereik het.

Die wyse waarop die ANC die reuseprobleem van werkloosheid aanpak, is ’n skreiende onreg teen ’n minderheidsgroep en die teenoorgestelde van gelyke behandeling en geleenthede vir almal.

Related Articles

Back to top button