LettersOpinion

Leser waarsku reeds jare gelede oor water

As elkeen wat ’n boorgat het, voorsien word van ’n drukknopkraan en elke naaste inwoner 20 liter water per dag kry, reken ek dat die sypaadjie voor my huis deurgetrap sal word.

Johan Joubert, Modimolle, skryf:

Die brief in Die Pos van Vrydag 16 November deur James van Zyl van AfriForum het betrekking.

Die inhoud van Van Zyl se brief is prysenswaardig en ek hou van die sin “ons moet op die kort- en mediumtermyn oorleef en daarvoor sal ons self moet sorg”. As ek ’n boorgat het, sorg ek dus vir myself!

As elkeen wat ’n boorgat het, voorsien word van ’n drukknopkraan en elke naaste inwoner 20 liter water per dag kry, reken ek dat die sypaadjie voor my huis deurgetrap sal word. A nee a, dink net aan die watervermorsing as 125 inwoners elk ’n houer wil volmaak — om van die modderbad nie te praat nie.

Ek sal eerder voorstel dat daar meer sentrale waterpunte moet wees. Die hoeveelheid water moet ook beperk word soos in Kaapstad sodat almal ’n beurt kan kry om water te skep.

Ongeveer 10 jaar gelede het ek verskeie briewe aan Die Pos geskryf waarin ek my kommer uitgespreek het oor die water- en kragsituasie. Met die verwagte aanwas van die bevolking moes die munisipaliteit jare gelede reeds beplan het om voorsiening te maak om die huidige probleem af te weer.

Ten spyte daarvan dat die skrif toe reeds aan die muur was, is daar maar onlangs eers boorgate gesink om die nood te verlig.

Ek hoop egter van harte dat Van Zyl ’n boorgat by sy huis het en die inwoners in sy omgewing bystaan.

Related Articles

Back to top button