LettersOpinion

Help met water as jy ’n boorgat het

Watervoorsiening is onder groot druk. Sosiale netwerke gons oor swak dienslewering en inwoners is baie kwaad.

James van Zyl, AfriForum, Modimolle skryf:

Dit is nie ’n geheim dat daar groot waternood in Modimolle is nie.

Watervoorsiening is onder groot druk. Sosiale netwerke gons oor swak dienslewering en inwoners is baie kwaad. Dit is alles geregverdig om ongelukkig te wees, maar wat gaan ons bereik om net te kla en te kritiseer? Dit plaas druk op die munisipaliteit en raadslede, maar dit maak nie water nie!

AfriForum se Modimolle-tak se bestuur het dié moontlikhede bespreek wat ons kan doen om onsself te help.

Ons het verlede jaar reeds met ’n watertenkprojek begin om inwoners met boorgate in hul erwe te vra of hulle dalk water aan die inwoners in hul woongebiede beskikbaar sal stel.

Daar is watertrokke wat deur die munisipaliteit gehuur word om water aan die Phagameng- en Phomolong-gebiede te verskaf. Ons weet dit verlig baie van die nood daar, maar dit skiet steeds tekort.

AfriForum in Modimolle vra of daar vrywillige waterskenkers na vore sal kom om in te skakel by die projek. AfriForum sal ’n kraan na die grensdraad of heining van die inwoner se erf aanlê met ’n drukknopkraan sodat mense kanne of houers daar kan volmaak tydens noodgebruik. Daar sal ’n bordjie by die kraan aangebring word om aan te toon dat daar ’n noodwaterpunt beskikbaar is.

Wanneer die nood verby is, kan die kraan teruggetrek word in die skenker se erf totdat dit weer nodig is.

AfriForum in Modimolle en HP Elektries is besig met die toerusting van ’n boorgat by Hoërskool Nylstroom om ook daar water beskikbaar te stel. Daar is reeds ’n waterpunt by die NG Kerk Nylstroom-Oos, asook in Boshoffstraat by Fernando en Sunet Goncalves se huis.

As elke skenker 2 500 liter per dag of per week kan skenk, kan dit ander inwoners help om die nood te verlig met ’n water-skenking van 20 tot 40 liter per dag.

AfriForum vra ook dat inwoners wat dit enigsins kan bekostig vir hulle ’n watertenk by hul huise sal installeer om vol te hou wanneer daar munisipale water is of om reënwater van dakke op te vang. Ons moet sover moontlik selfversorgend wees in tye van nood. Ons moet weet dat ons munisipaliteit tegnies bankrot is en dat dit baie lank kan neem om die situasie reg te stel, indien ooit. Ons moet egter op die kort- en mediumtermyn oorleef. Daarvoor sal ons self moet sorg.

Om hulp aan te bied met water of enige ander oplossings, bel my by tel. 082 575 6902 of stuur ’n e-pos aan die adres james@dwcon.co.za(.)

Related Articles

Back to top button