LettersOpinion

Al daardie blikke met lelike wurms moet oopgemaak word

Indien ’n party iets oopkrap wat die opponerende party probeer verdoesel, baat almal daarby.

Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Ek verwys na die artikel in Die Pos van 26 Oktober vanjaar: “Munisipale grond glo vir ’n appel en ei verhuur.”

As lid van die VF Plus is ek verbind tot deursigtigheid. Derhalwe het ek dit my missie gemaak om ondersoek in te stel na die stand van grondbesit van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Ná ’n tydperk van een jaar kon ek iets op die tafel sit waarvan ek oortuig is belastingbetalers kennis moet neem.

Ingeligte besluite in die komende verkiesing was nog nooit so belangrik nie. Om erkenning te gee aan die party wat kiesers op hoogte hou met die stand van sake in hul gebied, en soos wel in die artikel gebeur, is nie te veel gevra nie.

Die VF Plus is deel van die alliansie van verskeie partye in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit. Onderlinge samewerking tussen partye is noodsaaklik. Hou ook in gedagte dat wat die een party doen, die ander ten nouste raak.

Dit bly egter wenslik om nie een party se optrede of bydrae tot die groter saak, met dié van ander partye te verwar nie. Indien ’n party iets oopkrap wat die opponerende party probeer verdoesel, baat almal daarby. Uiteraard word dit verwelkom as daar verdere lig op ’n netelige saak gewerp word. In hierdie geval is dit die misbruik van munisipale bates en in besonder die verhuring van grond.

Inwoners moet bewus wees van feite met betrekking tot die doen en late van die munisipaliteit. Die VF Plus se bydrae met betrekking tot die misbruik van munisipale bates, is waarna ’n leser in Die Pos van 9 November se briewekolom verwys as “wurms uit ’n blik haal”.

Elke party wil tans toenemend in die kollig wees — ’n kieser kan per slot van rekening net agter een party ’n kruisie trek.

Related Articles

Back to top button