LettersOpinion

Stygende werkloosheid wys hoe ANC die ekonomie verwond het

Werkloosheid het in die derde kwartaal vanjaar tot 27,5% gestyg.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, skryf:

Die stygende werkloosheidsyfer wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas uitgereik het, skilder ’n tragiese prentjie van agteruitgang in die ekonomie en groter swaarkry deur gewone mense wat probeer oorleef in ’n onstabiele politieke omgewing.

Werkloosheid het in die derde kwartaal vanjaar tot 27,5% gestyg. Dit is duidelik ’n produk van die ANC wat die land en sy mense op ’n katastrofiese wyse gefaal het.

Nie net het staatskaping, groeiende korrupsie en onreëlmatige besteding die staatskas uitgeput nie, maar beleidsonsekerheid rakende eiendomsreg en die negatiewe impak van jare se Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat slegs enkelinge verryk, het die ekonomie dramaties verwond. Die ANC se ontwikkelingstaat het dramaties gefaal.

Die ANC het die ekonomie sodanig uitgehol dat net ’n drastiese verandering in ANC-ekonomiese beleid die stygende werkloosheid kan omkeer. Die regerende party is egter só verwring deur interne faksies en ’n kapingsmentaliteit dat die party nie in staat sal wees om die ekonomie om te keer nie.

Uiteindelik sal net ’n regeringsverandering deur ’n koalisie van redelike en pragmatiese opposisiepartye wat die vrye mark beskerm, die saak kan red. Intussen word die ekonomiese winter al hoe kouer vir werkloses.

Related Articles

Back to top button