LettersOpinion

Rassespanning aan die toeneem

Die teenoorgestelde is waar.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Rassespanning neem skrikwekkende afmetings in Suid-Afrika aan.

Toe eiendomsreg aan die begin van 2018 in gedrang gekom het, het die spanning ’n hoogtepunt bereik. Met skeefgetrekte redenasies en twyfelagtige statistieke, eis radikales regstelling van die verlede.

Minderheidsgroepe is in die spervuur sodat die konsep van selfbeskikking opnuut onder die soeklig kom. Omdat die begrip met Apartheid verbind word, het dit verkeerdelik die konnotasie dat dit ’n verregse opvatting is en word as agterlik en rassisties beskou. Die teenoorgestelde is waar. Selfbeskikking is ’n wêreldverskynsel en word internasionaal erken, asook deur Artikel 235 van die Grondwet. Maar selfbeskikking word nie deur ’n regering bewerkstellig nie. Diegene wat voel hulle is daarop geregtig, moet ’n daadwerklike poging aanwend om gestalte daaraan te gee.

Minderhede word aan drie prosesse blootgestel. Eerstens is daar diegene wat deel van die meerderheid word deur inlywing; tweedens uitwissing deur moorde. HIermee saam vind ’n derde proses plaas, naamlik uitdrywing deurdat welvarendes die land verlaat. Hierdie prosesse word eers terugskouend herken, maar is tans veral onder blanke Suid-Afrikaners waarneembaar. Voorbeelde is die afdwing van Engels in skole en universiteite om met die meerderheid saam te smelt; die moordsyfer en veral plaasmoorde is ’n skokkende werklikheid; Suid-Afrikaners verhuis in hul duisende na lande soos Australië en die VSA. Om in die lig hiervan selfbeskikking as onbelangrik af te maak, sal kortsigtig wees.

Teen die agtergrond van die ekonomiese, politieke en kulturele klimaat behoort elke stemgeregtigde landsburger in alle erns oor die toekoms te besin. Pleks van groter selfbeskikking aan groepe op alle vlakke te gee, het die ANC algehele oorheersing as doelwit. Selfbeskikking moet opgeweeg word teen die alternatief, naamlik om permanent aan die ANC en sy handperd die EFF, on-dergeskik te wees. (Brief verkort. — Red.)

Related Articles

Back to top button