LettersOpinion

Groot afname in aantal reserviste

Dit dien as bewys dat die polisie se beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en die polisie by te staan met polisiëring, vals is.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, skryf:

Bheki Cele, minister van polisie, het in antwoord op ’n parlementêre vraag bekendgemaak dat daar die afgelope ses jaar ’n reuse-afname in die aantal polisiereserviste was en die VF Plus sal hom in die parlement vra om antwoorde daaroor te verskaf.

Volgens Cele was die aantal kategorie A-reserviste op 31 Mei 2018 slegs 3 002 teenoor die 17 939 op 31 Mei 2012. Die aantal kategorie D-reserviste was op 31 Mei 2018 slegs 4 087 teenoor die 32 524 op 31 Mei 2012.

Die kategorie A- en D-reserviste is ’n foutiewe verwysing aangesien daar sedert 2014 (SAPD Nasionale Instruksie 3 van 2014) slegs kategorie 1- en 2-reserviste is.
Volgens hierdie instruksie is kategorie A reserviste, wat operasionele reserviste was, saamgevoeg met die D-kategorie, wat lan-delike reserviste in kategorie 1 was.

Die aantal reserviste het in dié tyd dus afgeneem van 50 463 tot slegs 7 089. Dit dien as bewys dat die polisie se beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en die polisie by te staan met polisiëring, vals is.

Indien die minister en die polisie ernstig was om ondersteuning vanuit die gemeenskap te kry, sou hulle nie van reserviste ontslae geraak het nie, maar sou daar trouens baie meer gebruik gemaak word van reserviste wat juis uit die gemeenskap kom en daarom ’n belangrike bydrae kan lewer om misdaad te bekamp.

Reserviste is vrywilligers wat sonder vergoeding hul tyd opoffer om die polisie by te staan om misdaad in Suid-Afrika te bekamp. Begrotingsredes kan daarom nie as ’n rede vir die afname aangevoer word nie.

Related Articles

Back to top button