LettersOpinion

Laaste ‘moordboom’ verdor

Slegs die stam van die ander boom, by die gedenksteen deur Gerhard Moerdyk, is nog sigbaar.

Gawie Richter, Modimolle, skryf:

’n Stukkie van Limpopo se geskiedenis het in die slag gebly met dié dat die tweede kameeldoringboom by die Moorddrift-monument langs die Nylrivier op die R101-pad (naby Mokopane) ook nou verdor het.

Slegs die stam van die ander boom, by die gedenksteen deur Gerhard Moerdyk, is nog sigbaar.

Moorddrift word gekoppel aan drie verskil-lende veldslae wat in die gebied onder beheer van stamkaptein Mokopane (Makapan) plaasgevind het.

Trekkers met drie ossewaens het tydens September 1854 met onder meer ivoor, wat vanaf Schoemansdal na Swartruggens onderweg was, onder hierdie twee bome uitgespan.

Die Trekkers was Willem Prinsloo, sy vrou Nellie en hul drie kinders, Jan Breedt, sy vrou Maria met ’n baba en drie kinders, Lourens Bronkhorst, Philipus du Preez, asook twee jong vroue wat daar in ’n lokval gelei en vermoor is.

Om en by dieselfde tyd is Markus Venter en sy seun, Willem, by Makapan se winkel vermoor terwyl Groot Hermaans Potgieter en sy jaggeselskap by Mapela se stat uit-gewis is. Hierdie moorde het uitgeloop op die Slag van Makapan wat vanaf 26 Oktober tot 21 November 1854 geduur het. Honderde mense het daartydens omgekom.

Die Trekkerleier Piet Potgieter is ook in dié nadraai doodgeskiet. Hy is volgens geskiedskrywers op sy plaas Middelfontein begrawe, maar op 30 Mei 1964 voor die stadsaal op die destydse Potgietersrus, wat na hom vernoem is, herbegrawe. Potgietersrus se naam is ná 1994 na Mokopane verander.

Related Articles

Back to top button