LettersOpinion

Trio-misdade styg skerp tydens boekjaar

Die werklikheid van misdaad in Suid-Afrika is dat moord vir die sesde agtereenvolgende jaar gestyg het.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, skryf:

Volgens die jongste misdaadstatistieke soos bekendgemaak deur die minister van polisie, Bheki Cele, het moord met 6,9% toegeneem teenoor die vorige boekjaar, motorkapings het met 2,3% afgeneem en rooftogte by woonhuise het met 0,4% afgeneem.

Dié drie misdade staan bekend as die trio-misdade.

Die werklikheid van misdaad in Suid-Afrika is dat moord vir die sesde agtereenvolgende jaar gestyg het. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 35,1 per 100 000 van die bevolking teenoor die wêreldgemiddeld van sewe per 100 000 van die bevolking. Dit beteken Suid-Afrika se moordsyfer is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld.

Indien gekyk word na die trio-misdade en veral rooftogte by woonhuise, wat die mees gevreesde misdaad in Suid-Afrika is, en dit word vergelyk met die afgelope ses jaar, dan het moord met 30,7% gestyg (20 336 gevalle, 55,7 per dag), motorkapings met 73,35% (16 325 gevalle, 44,7 per dag) en rooftogte by woonhuise met 32,77% (22 261 gevalle, 61 per dag).

Wat roof met verswarende omstandighede betref, was daar 138 364 gevalle. Hierdie misdaad het die afgelope ses jaar met 37,3% toegeneem.

Dit beteken Suid-Afrika is ’n gewelddadige land en die publiek kan met reg sê hulle voel onveilig en dat misdaad in Suid-Afrika toeneem, ondanks geringe afnames in motor-kapings en rooftogte by woonhuise in die laaste boekjaar.

Die VF Plus verwelkom die bekendstelling van statistieke oor plaasmoorde wat vir die eerste keer sedert 2007 weer saam met die algemene misdaadstatistiek bekendgemaak word.

Dit is die gevolg van volgehoue druk deur die VF Plus op die regering, asook persoonlike gesprekke tussen my en Cele.

Volgens die polisie was daar 62 plaasmoorde in die 2017/18-boekjaar. Oor die afgelope ses jaar was daar ’n toename van 10,7% in plaasmoorde.

Wat verder sorgwekkend is, is dat die moordsyfer op vroue en kinders gemiddeld met 14,1% toegeneem het teenoor die vorige boekjaar. In die geval van meisies was die toename 10,9%, in die geval van seuns 20,4% en by vroue ’n toename van 11%.

Vroue en kinders is die kwesbaarste slagoffers van geweld en hierdie moordsyfers is ’n aanduiding dat respek vir vroue en kinders ’n krisis is wat die polisie daadwerklik uit die weg sal moet ruim.

Related Articles

Back to top button