LettersOpinion

Boere sal nie toelaat dat plase gesteel word

Boere gaan nie toelaat dat hulle van hul plase verwyder word nie. Die aannames waarop die regering se besluit berus, bestaan uit leuens en verdraaiings.

Johan Steyn, Oos-Kaap-streekvoorsitter: TLU SA, skryf:

Boere in die Oos-Kaap is dit eens dat geen plase deur die regering se “selfgewettigde diefstal” sal plaasvind nie en berei hul voor om hul wetlike eiendom met alles tot hul beskikking te beskerm.

Ek het dié stelling onlangs gemaak ná afloop van ’n e-konferensie vir TLU SA Oos-Kaap-lede.

TLU-SA se doelwit is om landbouers volhoubaar en ekonomies winsgewend tot voordeel van almal in Suid-Afrika op hulle plase te hou. Deur die bekendstelling van ’n lys waarop 195 plase vir “gewettigde diefstal” deur die ANC uitgewys word, laat die regering boere geen ander uitweg nie as om hul wettige eiendom te beskerm.

Boere gaan nie toelaat dat hulle van hul plase verwyder word nie. Die aannames waarop die regering se besluit berus, bestaan uit leuens en verdraaiings.

Geen grond is deur boere gesteel nie. Dit is ons eiendom waarvoor betaal is en waarop rente, belasting, hereregte en oordragkostes betaal is. Landbouers behoort as gevolg van hul bydrae tot almal se welstand in die land as nasionale bate geag te word. In werklikheid beeld die regering ons as die vyand uit. Ons beskou die regering se doel-wit om ons eiendom — van enige aard — te steel, as ’n oorlogsverklaring teen ons en sal daarvolgens optree.

Boere wil slegs toegelaat word om dit te doen waarvoor hulle geroepe is: om bekostigbare voedsel aan elke inwoner van Suid-Afrika te verskaf. Boere kwyt hul uitstekend van hul taak en verdien boonop aansienlike buitelandse valuta vir die land.

Die ANC het telkemale bewys dat hulle geensins in feite, redelikheid, gesprekvoering en ekonomiese werklikhede belangstel nie. Hulle gaan voort om die belange van sekere burgers van die land te verontagsaam en vyandig teenoor ons op te tree. Ons bid vir vrede en voorspoed vir ons land, maar ons sal ons regmatige eiendom met alles tot ons beskikking beskerm. Die ANC druk dit op ons af.

Ek het ’n versoek aan die regering gerig om tot hul sinne te kom en ’n tragedie van onmeetbare omvang te verhoed.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button