LettersOpinion

Grondbeleid veroorsaak amok

Terwyl hierdie klip amok in die duiwehok veroorsaak, vind onwettige grondbesetting plaas.

Karel Niewenhuis, adjunk provinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Om pres. Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging te ignoreer, is om jou te ver-beel die Titanic sink nie, want die orkes speel nog.

Hierdie aankondiging plaas die stempel op die verandering van art. 25 van die Grondwet sodat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

Ramaphosa maak die deurslaggewende aankondiging op nasionale televisie as leier van ’n organisasie asof dit deur die president van die land gemaak word; nie dat dit die eerste keer is dat die grens tussen die regering en ’n politieke party vervaag nie.

Soos die Zanu-PF van Zimbabwe destyds, gebruik hy en sy eendersdenkendes emosionele retoriek oor die koloniale verlede en voeg daarby rassistiese, skeefgetrekte statistiek oor grondbesit. Die vyand is volgens hom art. 25 van die Grondwet — die rede waarom swart mense arm en wit mense ryk is. Hy beloof dat verandering sal lei na die Tuin van Eden waar almal werk en grond het. Daar word swaar op demokrasie geleun sonder om uitvoering aan die beginsels, soos respek vir eiendomsreg, te gee.
In ’n neutedop: die ANC besluit om die Zanu-PF- en Venezuela-pad te volg met gepaardgaande onherstelbare skade aan die ekonomie.

Indien hierdie die begin van ’n verkiesingsveldtog is, skop die ANC op ’n opportunistiese noot af. Ek bevraagteken die siening dat Ramaphosa net die mat onder die EFF wil uitruk. Die ANC is die hoofspeler. Die gesoute joernalis, Max du Preez, is van mening dat Ramaphosa die populistiese magte in sy party in toom moet hou deur links te praat en regs te doen. Maar hierdie is allermins die soort dubbelsinnigheid wat die land nou nodig het.

Van die kritiek op hierdie skuif deur Ramaphosa, kom van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Volgens hom maak die aankondiging ’n klug van die openbare vergaderings wat oor die land heen gehou is. Myns insiens was hierdie vergaderings niks anders as ’n fees van oningeligtes met enkele stemme in die woestyn wat op redelikheid aangedring het. Diegene wat van mening is dat die halfmiljoen voorleggings wat die grondwethersieningskomitee moet verwerk, enige doel dien, kan gerus wakker skrik.

Die VF Plus gaan ’n klag by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie indien oor die oortreding van art. 16 van die VN se handves van menseregte wat privaat eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.

Die DA vra vir ’n buitengewone parlementsitting terwyl AfriForum met die hof dreig en buitelandse beleggers in ’n videoboodskap vra om druk op die regering te plaas om van sy planne af te sien. Veranderings aan die Grondwet en onteiening sonder vergoeding gaan nie meer swart boere op die been help nie. En dus ook nie meer werksgeleenthede of ’n groeiende ekonomie skep nie.

Terwyl hierdie klip amok in die duiwehok veroorsaak, vind onwettige grondbesetting plaas en is 139 plase uitgesoek vir onteiening om die grondklousule van die Grondwet te toets.

Volgens Zizi Kodwa, lid van die NUK, word dit gedoen vir beleidsekerheid.

Beleggers sal insien dat internasionale langtermynbeleggings gekoppel is aan die regstel van die ongeregtighede van die verlede. Onderskat Kodwa nie die intelligensie van beleggers nie?

Talle plase is familieboerderye waar kundigheid reeds vir geslagte oorgedra word. Indien ’n plaas vernietig word, vernietig jy ’n waardeketting en ’n kollektiewe geheue. Pleks van onteiening sonder vergoeding behoort die klem waar moontlik te val op hoe eiendomsreg aan swart boere oorgedra kan word. Hierdie is nie ’n moeilike konsep nie en dis ondenkbaar waarom ’n intelligente man soos Ramaphosa dit nie insien nie. Of weeg om in beheer van ’n bevrydingsbeweging te bly, swaarder as die voortbestaan van ons land?

Op ’n meer positiewe noot sê Dan Kriek, president van AgriSA, dat die groep wêreldklasboere onvervangbaar is om kos vir die land te produseer.

Dit mag so wees, maar hierdie stelling strook nie met die praktyk waar gemoedere in die rooi is, plaasmoorde skrikwekkende hoogtes bereik, onrealistiese verwagtings hoogty vier en die stem van gematigdes al hoe dowwer raak nie.

Related Articles

Back to top button