LettersOpinion

Onteiening is ’n wagtende afgrond

Niemand sal in hulle pad staan om uitvoering te gee aan hulle plan om nie net munisipale eiendom nie, maar ook oop grond, op te eis nie. - Andries Moswoeu, EFF-raadslid

Karel Niewenhuis, Vryheidsfront Plus: adjunkprovinsiale leier, skryf:

Suid-Afrika beweeg al nader aan ’n afgrond wat bekend staan as grondonteiening sonder vergoeding.

Die regering se opdrag is om die land te beskerm deur die grondwet en internasionale wette te eerbiedig. Ironies genoeg het ons nou beskerming nodig teen ’n regering wat hom aan ’n reusevergryp wil skuldig maak, naamlik alleenreg op alle eiendom.

Die kwellende vraag is of die parlement die wilskrag het om na opponerende standpunte te luister. Die president het dit immers duidelik gemaak dat hy met die beleid gaan deurdruk. In die lig hiervan is daar ’n ongemaklike gevoel dat voorleggings en samesprekings kosmeties kan wees. Daarby is die departement van landelike ontwikkeling se begroting — minder as een persent van die regering se totale uitgawes — nie genoeg om die grondkwessie bevredigend op te los nie. R3 biljoen word bestee om BBP’s te beskerm. Die geld om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) aan die lewe te hou, kan tot 750 opkomende boere befonds.

Uit die vergaderings wat gehou word om die aangeleentheid in die openbaar te bespreek, asook onwettige grondbesetting, blyk dit dat ’n minderheidsparty in die parlement die plan aanvuur.

Ek verwys ook na Andries Moswoeu, EFF-raadslid van Bela-Bela, se brief in Die Pos van 6 Julie waarin hy stel dat niemand in hulle pad sal staan om uitvoering te gee aan hulle plan om nie net munisipale eiendom nie, maar ook oop grond, op te eis.

Ingevolge die Instituut vir Rasseverhoudinge moet die president veral landbou- en buitelandse beleggings in gedagte hou alvorens aan eiendomsreg gepeuter word. Twee derdes van die bevolking woon in stede en onlangse verslae van die instituut toon dat 38% van die swart bevolking werkskepping, en 26% opvoeding as prioriteit beskou.

Landbou dra slegs 2% tot die ekonomie by en toon toenemend ’n afname in groei. Gevolglik is dit ’n wanopvatting dat landbou tot groei en werkskepping sal bydra. Voorts is die land se ekonomie te klein en wankelrig om armoede en werkloosheid sonder buitelandse beleggers hok te slaan. Onsekerheid deur onteiening van grond sonder vergoeding, asook die Mynbouhandves, lei tot die afname van broodnodige beleggings. Indien die regering met sy plan voortgaan, is die moontlikheid dat Westerse lande sanksies op Suid-Afrika sal toepas, nie uitgesluit nie. Die erns hiervan word nie geredelik erken nie.

’n Interessante verwikkeling is dat koning Goodwill Zwelithini met geweld en weerhouding van stemme dreig indien sy Ingonyama Trust, wat in elk geval staatsgrond is, onteien word. Die president haas hom om die koning te verseker dat sy grond, en ander tradisionele leiers se grond, nie deur onteiening bedreig word nie.

Aansluitend hierby sê Thanduxolo Sabelo, die jeugliga se provinsiale voorsitter, die ANC se uitgangspunt was nog nooit om grond in besit van swart mense te onteien nie.

In ’n onderhoud aan City Press stel David Mabuza die mikpunt vir onteiening is die 87% vrugbare grond wat die koloniale en apartheidadministrasie vir hulself opgeëis het en nie die 13% wat grootliks die eien-dom van swart mense is nie.

Grondhervorming mag nie misluk nie; daar-om is dit jammer dat twyfelagtige statistiek en die rassekaart skaamteloos misbruik word om te mislei. Ons wil nie in pres. Cyril Ramaphosa se Tuin van Eden — sy eie metafoor vir Suid-Afrika ná onteiening van grond sonder vergoeding — sonder klere loop nie.

Related Articles

Back to top button