LettersOpinion

Pas wet konsekwent toe

Agter die hele paaiekwessie skuil ’n werkskeppingsprogram en belastinggeld word deur ondoeltreffende arbeidsbestuur gemors.

Pieter Wagner, Bela-Bela, skryf:

Ek verwys na die nuwe veldtog van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) teen sakelui van Bela-Bela om net sekere advertensieborde langs sekere paaie te laat verwyder.

Sanral beheer die paaie buite die munisipale gebiede, maar Bela-Bela se sakemense word benadeel deurdat advertensieborde nou oral op die Rooibergpad verwyder word.

Dit word sekerlik in opdrag van die regering gedoen, maar dit druis in teen die vryhandelbeginsel. Sakelui en instansies is vroeër jare toegelaat om borde op te rig —  soms teen ’n geringe fooi. Die scenario het deur die jare verander. Belastingbetalers word deesdae belas om paaie in stand te hou.

Verskonings van Sanral is dat hulle die paaie skoonhou en vir padgebruikers beveilig. ’n Mens sou hierdie bogstorie net kon glo indien ons land se paaie werklik goed in stand gehou word.

Agter die hele paaiekwessie skuil ’n werkskeppingsprogram en belastinggeld word deur ondoeltreffende arbeidsbestuur gemors. Orals langs ons paaie sien ’n mens werkers wat gras kap, groot groepe wat rondstaan en nie veel werk word gelewer nie.

Met meer meganiese snyers en trekkers kan die werk teen ’n fraksie van die hoë koste wat nou aangegaan word, gedoen word. Sanral is veronderstel om in samewerking met ander staatsdepartemente die paaie veilig te hou, maar hulle versuim hul plig om ordentlike grensheinings langs die paaie op te rig en in stand te hou.

Daar is geen heining aan die oostekant van die noordelike uitgang by Bela-Bela nie en geen poging word aangewend om padgebruikers te beskerm teen die gevare van beeste, skape en donkies wat daagliks on-gestoord in die pad loop en ons lewens bedreig nie. Talle ongelukke het al daar voorgekom — selfs ongelukke waarin regerings- en polisievoertuie betrokke was.

Sanral herstel ook nie die muur by Hammanskraal wat vernietig is en groot gevaar vir padgebruikers inhou nie.

Die N1-snelweg noord van die Bela-Bela/Settlers-kruising word nie ordentlik in stand gehou nie. Suid van hierdie aansluiting tot in Pretoria is die pad beveilig. Die gras is orals vanaf die teervlak tot teen die grens-draad kort gesny.

Noord van die kruising word ’n grasbaan teen die teervlak gesny en dan een teen die grensdraad. Op die stuk tussen die teervlak en die grensdraadstrook staan die gras ’n meter en ’n half hoog, wat ’n brandgevaar inhou.

Op die N4 na die Krugerwildtuin is daar talle advertensieborde langs die pad, en ook by plaasingange op die N3 na Durban, waar talle advertensieborde en ondernemings vanaf die N3 bedryf word. Hou dan nou?

Ons het geen keuse as om hierdie tendens te beveg nie. Ons as sakelui moet onder moeilike omstandighede oorleef en ons ywer om te oorleef, sal nie deur die regering gedemp word nie.

Bela-Bela se mense moet ’n vergadering hou waar alle sakelui en rolspelers die pad vorentoe moet uitstippel, want die ANC-regering pas nie wette konsekwent toe nie en Sanral in Limpopo ignoreer padgebruikers se regte om veilig op die paaie te ry.

Related Articles

Back to top button